VIDEO – Inwoners vertel van ervaring toe storm Ermelo tref
’n Kleuterskoolonderwyser in die omgewing het vertel dat die winde iets was wat sy nog nooit beleef het nie.
ERMELO – Inwoners het Hoëvelder vertel van hul ervaring tydens die storm wat verlede week op 6 November, verwoesting op die dorp gesaai het.
Louis en Cheryl Geldenhuys in Jan Jacobszstraat was ook deur die storm geraak.
Cheryl het vertel dat sy en haar man binne hul huis gesit en gesien het hoe sinkplate oor een van die heinings waai.

Dit was eers toe dat hul by hul voordeur uitkyk, en opmerk dat dié sterk winde hul heining ook verwoes het.
“Dit het gelyk of die winde van twee kante waai en uiteindelik mekaar ontmoet. Hier het selfs ’n trampolien in my erf opgeëindig,” het sy vertel.
By die huis van Riaan Stander in President CR Swartstraat het die plafon in hul huis ineengestort en ’n afdak wat in die grond vasgesement was is uit die grond geruk en het op ’n ander gebou in die erf te lande gekom.
Niemand is egter in die proses beseer nie.

’n Kleuterskoolonderwyser in die omgewing het vertel dat die winde iets was wat sy nog nooit beleef het nie en het vir ’n oomblik gedink dat die wind alles om hulle gaan oplig.
Sy het vertel dat een van die ander inwoners in die straat se hoenderhok se dak oor die heining na hul bure gewaai het en in ’n ander erf is ’n vrou se vrugteboom uit die grond geruk.
Nuutverkose wyk 7-raadslid, JJ Scholtz, het die toneel besoek en berig dat hy met MMC Ernest Ngovene en mnr. Malaza van die Parke en Tuin-afdeling gekoördineer het om skoonmaakdienste te ontplooi.
LEES OOK:
Ermelo faces extensive damage amidst unconfirmed tornado reports
UPDATE: SA Weather Services weigh in on tornado claims in Ermelo
GALLERY – Storm in Ermelo wreaks havoc



