Botsing met rondloperbeeste op N2 onderstreep groeiende krisis in Ermelo
Nog ’n ongeluk met rondloperbeeste in Ermelo – motor en vragmotor bots op die N2 teen twee beeste.
Die probleem van rondloperbeeste in en om Ermelo het Maandagaand, 8 September, weer opnuut kop uitgesteek toe twee beeste op die N2, sowat 2 km buite die dorp, getref is.
Volgens noodpersoneel het ’n ligte motorvoertuig en ’n vragmotor omstreeks 18:45 met die diere gebots.
Die insittendes van die motorvoertuig het ligte beserings opgedoen, maar vervoer na die hospitaal geweier.
Hierdie jongste insident volg op ’n reeks soortgelyke voorvalle wat al groot kommer onder inwoners en padgebruikers gewek het.
SIEN OOK: VIDEO – Rondloperbeeste op Ermelo skep ’n ‘moowiese’ probleem
Die afgelope paar maande is Ermelo geteister deur verskeie botsings met beeste op beide die N17 en binne die dorp se strate.
In een geval het ’n vragmotorbestuurder vier beeste getref en met sy voertuig teen ’n heuwel afgestort, terwyl ’n plaaslike inwoner in Camdenlaan ook teen ’n bees gebots het.
Die gevaar strek egter verder as net padveiligheid. Hoëvelder het ook verlede week berig oor ’n karkas van ’n bees in ’n oop veld langs Camdenlaan opgemerk, naby die Nomdeni-woonbuurt.
Waterhouers en ’n bak is langs die dier aangetref – tekens dat dit moontlik vir slagting bestem was. Die terrein self was besoedel met rommel en glasbottels, terwyl ’n vuil stroom water daar naby verbyvloei.
“Wanneer karkasse in openbare ruimtes langs besoedelde waterstrome beland, raak dit ’n saak van gesondheid sowel as veiligheid,” het hy gesê.
Die party het reeds die Mpumalanga Departement van Landbou sowel as die LUR vir Samewerkende Regering versoek om dringend in te gryp.
Intussen bly inwoners en motoriste met die werklikheid sit, beeste dwaal vrylik in woonbuurte, op paaie en selfs langs besoedelde waterstrome, sonder dat daar duidelik aanspreeklikheid geneem word.
Die vraag wat toenemend gevra word, is: Wie gaan verantwoordelikheid neem voordat die volgende ongeluk moontlik lewens eis?



