Ermelo-inwoners help man en sy hond Lucy na ’n veilige nuwe tuiste
Toe alles verlore lyk, het Ermelo se inwoners ingespring om ’n man en sy hond, Lucy, ’n tweede kans te gee.
ERMELO – ’n Man wat saam met sy hond Lucy vir byna twee weke op ’n sypaadjie moes oorleef, het hoop gekry toe Ermelo se gemeenskap en plaaslike sakelui saamgespan het.
Wat begin het as ’n ontmoeting vol wanhoop het vinnig verander in ’n getuienis van deernis.
Hy het vertel hoe hy saam met sy ma ’n huis gehuur het, maar nadat hulle nie meer die huur kon bekostig nie, is hulle uitgesit.
Sy ma is glo Bethal toe en hy is alleen agtergelaat. Op die hoek van Generaal Botha- en Camdenlaan het hy ’n klein skuiling opgerig vir hom en Lucy, met al hul besittings net daar op die sypaadjie.

Weldoeners, onder andere At Pelser en Elize van den Heever, het sy nood raakgesien en begin hulp reël. Met hul steun is ’n plek by Mooihawens, ’n plaaslike versorgingsfasiliteit, vir hom aangebied en van sy besittings daarheen vervoer.
Ermelo Toyota het ook ’n vragmotor beskikbaar gestel en sy goedere daarop gelaai.
Vir hom het selfs verf en ou houers groot waarde gehad, en dit was ’n hartseer oomblik toe hy moes besluit wat saam met hom en Lucy kon gaan, en wat agter moes bly.

’n Motoris wat daar stilgehou het voor al die werkers opgedaag het, het vir ’n oomblik spanning veroorsaak toe hy die man bitsig aangespreek het oor sy “gemors.” Een van die weldoeners het verduidelik dat hulp onderweg is, en dat hy eerder ook moes help, maar die man het kwaad in sy bakkie gespring, gesê hy sal nie en daar weggery.
Toe die man en sy hond uiteindelik instem om agter op die bakkie te klim, was daar trane in sy oë, nie net van dankbaarheid nie, maar ook van hartseer oor die items wat hy moes agterlaat.
Die klein konvooi het stadig vertrek na ’n nuwe begin, hoe broos ook al.
Lees die volledige berig in hierdie week se Hoëvelder.



