Kerrie-en-rys-verkope vir Roané oortref alle verwagtinge
Die gemeenskap het meer as 1 300 bakkies kerrie-en-rys gekoop tydens die geldinsameling vir Roané.
ERMELO – Die gemeenskap het op 21 November hulle harte oopgemaak en alle verwagtinge oortref deur meer as 1 300 bakkies kerrie-en-rys te koop.
Dié reusefondsinsameling is gehou om Roané Griffin (4) en haar gesin, nadat sy in ‘n ernstige kop-aan-kopbotsing op 14 November betrokke was, finansieel by te staan.
Marelize Kirk, een van die organiseerders, het die gemeenskap vir hulle oorweldigende ondersteuning sowel as geduld met die aflewerings bedank.
“Danksy die vrygewigheid van al die borge kan ons met trots sê dat geen uitgawes uit die verkope gedek is nie, wat beteken dat 100% van die opbrengste vir die dogtertjie se herstel aangewend kan word,” het Kirk gesê.

Roané, wat veelvuldige frakture en ernstige inwendige beserings opgedoen het, is kort na die ongeluk per helikopter na die gespesialiseerde pediatriese trauma-eenheid by Netcare Alberton vervoer.
ALSO SEE: VIDEO – Klasmaatjies en ouers bid vir Roané en haar gesin
Sy word tans by dié hospitaal behandel en moes op 19 November weer ‘n lang operasie ondergaan. Die chirurge het penne en draadjies in haar boarm, skouer en gewrigte geplaas, en haar femur en voetbeentjies is herstel.
Haar ma, Douwlene, het op ‘n WhatsApp-groep mense aangemoedig om steeds Roané in hul gebede te hou.
“God gaan hierdie wonderwerk voor ons sorgvuldig op Sy tyd doen,” het sy geskryf.

Om hulle met die enorme finansiële en logistieke kostes wat die beproewing meebring te help, is ‘n trustfonds by Pas Prokureurs, wat hul dienste gratis bied, geopen.
LEES OOK: Ermelo-gemeenskap staan saam vir vierjarige Roané ná botsing
‘n Bewysbrief van dié firma bevestig dat ‘n trustfonds vir Roané Griffin op 17 November geopen is om haar mediese behandeling en noodsaaklike uitgawes te help dek.
Die besonderhede vir enigiemand wat donasies wil gee, is soos volg: Rekeningnaam: Pieter Stoffberg Inc Trust Bank: FNB Ermelo, rekeningtipe: trustrekening, takkode: 270344, rekeningnommer: 62092150326. Verwysing: ROA7/1.
Alle donasies word in ‘n geregistreerde trustrekening gehou en deursigtig deur PAS Prokureurs bestuur en sal slegs vir Roané se mediese behandeling en verwante uitgawes aangewend word.



