Eddie is Ope kampioen
Eddie Daniel stof vele jonger spelers uit en word gekroon as die 2015 Ermelo Ope Kampioen.

Eddie Daniel, Ermelo se veteraan-gholfspeler, het die afgelope naweek die Ermelo Ope mansgholftoernooi gewen en weer bewys dat hy steeds mededingende gholf kan speel.
In die gros-afdeling het Eddie tellings van 68 en 72 houe oor die 36 putjies aangeteken vir ‘n totaal van 140 houe, een hou voor Jasper van der Westhuizen wat tweede was. Jasper se rondes van 75 en 66 houe het aan hom ‘n totaal van 141 houe besorg. Leon Visser was in die derde plek met 144 houe.
Lucky Khubeka het die netto-afdeling gewen met ‘n netto-telling van 132 houe. Wonder Ngwatle was tweede met 139 houe en Jasper derde met 141 houe.
In ‘n tragiese wending ná afloop van die toernooi, het een van die deelnemers, John Ngumane wat lid van die Pholapark Gholfklub op Barberton is, en sy vriendin, Nozipho Dube, in ‘n motorongeluk naby die gholfbaan gesterf. John het in die gesamentlike 18de plek in die gros-afdeling van die toernooi geëindig.
Sy jong seun Bandile (4) is ernstig beseer in die ongeluk.



