Erries deur na Tuksreeks-eindronde
Die eerste span, wat die afgelope twee jaar hul rieme teen Hoërskool Transvalia vasgeloop het, het dié jaar die bordjies verhang.
Die Erries se rugby-, hokkie- en tennisspanne het verlede week aan die halfeindronde van die Tuksreeks op Tukkies se sportkampus deelgeneem.
Op die rugbyveld moes die 0/14-span teen Hoërskool Rustenburg, 0/15’s teen Hoërskool Transvalia en die 0/16’s teen Hoërskool Klerksdorp die knie buig.
Die eerste span, wat die afgelope twee jaar hul rieme teen Hoërskool Transvalia vasgeloop het, het dié jaar die bordjies verhang.
Die rustydtellling was 13 elk en in die tweede helfte het die Erries met aanskoulike hardlooprugby na vore gekom.
Hulle het Transvalia 41-25 geklop.
Daniël Visser, Vusi Mkhonza, Boeta Terblanche, Pieter Bekker, Arno le Roux en Leon Visser het gesorg vir die drieë en Leon Visser het ook met vier doelskoppe en ‘n strafdoel geslaag.
Die eindronde vind op 9 Mei op Tukkies se sportkampus plaas.
Tydens die seunshokkie se halfeindrondes, het doele deur Mark Gardiner, William Gardiner en Elandré Kruger gesorg vir die eerste span se 3-1 oorwinning teen Hoërskool Monument.
Die 0/16-span het hul wedstryd teen HTS Middelburg 1-0 gewen met ‘n doel deur Christiaan van Huyssteen.
Rikus Cilliers het die Erries se enigste doel aangeteken in die 0/14A-wedstryd teen Hoërskool Centurion wat EHS 1-4 verloor het.
Die dogtershokkiespanne se halfeindstyde het by die LC de Villiers-stadion plaasgevind.
Al vier die A-spanne het uitstekende wedstryde gespeel en is almal deur na die eindstryd wat dié naweek plaasvind.
Die 0/14’s het EG Jansen 3-0 geklop en sal in die eindsdtryd uitspeel vir posisie 1 of 2, die 0/15-span sal uitspeel vir posisie 9 of 10 ná hul 1-0 oorwinning teen Hoërskool EG Jansen.
Die 0/16-span het 3-0 teen Hoërskool Eldoraigne geseëvier en speel uit vir die vyfde of sesde plek, terwyl die tweede span vir posisie 3 of 4 sal speel nadat hulle die wedstryd teen Eldoraigne 3-1 verloor het.
Die eerste span het hul wedstryd teen EG Jansen gewen en sal meeding vir eerste plek.
Die Erries se junior en senior tennisspan het hul man gestaan in die Tuksreeks wat van 27 tot 30 April in Pretoria plaasgevind het.
Die spanne het elk ses wedstryde gespeel waarvan die junior span drie gewen het, 13-3 teen Hoërskool Florida, 9-1 teen Vereeniging Gimnasium en 9-6 teen Hoërskool Centurion .
Hulle het algeheel 13de geëindig.
Stefan Kemp het al sy wedstryde in dié afdeling gewen.
Die senior span het ook drie van hul wedstryde gewen, 15-1 teen Hoërskool Florida, 10-6 teen Hoërskool Pietersburg en 9-3 teen Hoërskool Rustenburg .
Hulle eindig sesde algeheel.
Die EHS wens al dié spanne sterkte toe vir die eindstryde.






