Bernu is koning op sy ysterperd
Daar is min mense wat die reusagtige BMW R1200GS met absolute behendigheid kan hanteer.

Die 16-jarige Bernu Arnoldi van Hoërskool Ermelo het dié naweek ervare BMW-motorfietsryers tydens die provinsiale kwalifikasierondes vir die BMW Motorrad GS Trophy ’n ding of twee gewys.
15 motorfietsryers het aan die uitdunne wat uit 12 uitdagings bestaan en deur internasionaal-gekwalifiseerde motorfietsinstrukteurs opgestel is, by Country TRAX deelgeneem.
Die BMW GS Trophy is ’n internasionale byeenkoms wat elke twee jaar plaasvind. Spanne bestaande uit drie lede elk van lande regoor die wêreld ding mee in verskeie uitdagings wat oor ’n week plaasvind, met die oog om as die beste BMW-motorfietsryer in die wêreld aangewys te word.
Verlede jaar se GS Trophy het in Kanada plaasgevind, 16 nasies het deelgeneem en die Suid-Afrikaanse span het tweede geëindig.
Vanjaar word uitdunne regoor die land gehou om die span te kies wat Suid-Afrika volgende jaar in Asië sal verteenwoordig.
Bernu is geen vreemdeling by Country TRAX nie, maar die afgelope naweek was ’n toets om te sien hoe hy teen die beste ryers in Mpumalanga vaar. Bernu het derde geëindig en sou die Mpumalanga-span gehaal het as dit nie vir sy jeugdige ouderdom was nie.
Hoewel hy nog te jonk is om vir die span te kwalifiseer, is dit waardevolle ondervinding wat hy opdoen vir die volgende uitdunne van die GS Trophy wat in 2017 plaasvind.
Daar is min mense wat die reusagtige BMW R1200GS met absolute behendigheid kan hanteer. Om te sien hoe ’n 16-jarige seun dié reus met grasie en sonder moeite bemeester, is ’n groot bederf vir ieder en elk wat ’n belangstelling deel in motorfietse.
Een ding is seker, ’n opwindende toekoms wag op dié jong man.
Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.
Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder
”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.
Vir nuus na jou selfoon:
BBM – 2667A726
WhatsApp – 0748877590