Wessel skoei jong krieketspelers
Die Golden Eagles spits hulle op ontwikkeling toe en sonder las van klubgelde, skep hulle die geleentheid vir enige kind om hul talente te ontgin.
Krieket is aan die groei in Ermelo danksy Wessel Swart se visie en liefde vir dié sport.
Wessel het sy twee seuns afgerig en die jongste neem in Desember aan die nasionale 0/13-krieketweek deel.
In die proses het Wessel self baie geleer en besef dat hy sy kennis ook met ander moet deel.
Wessel het Johan Koen, ’n onderwyser by Laerskool Ermelo, genader en saam het hulle twee maande gelede die Ermelo Golden Eagles ontwikkelingsgroep begin.
Johan wat provinsiale krieket gespeel het, het nog altyd ’n passie vir afrigting gehad en hy hoop om eendag ook op provinsiale vlak te kan afrig.
Enige speler is welkom om by die groep aan te sluit, ongeag hulle kennis of ervaring van die sport.
Wat die ontwikkelingsgroep ook uniek maak, is dat hulle nie seisoensgebonde is nie en regdeur die jaar oefen en wedstryde speel.
Die Golden Eagles spits hulle op ontwikkeling toe en sonder las van klubgelde, skep hulle die geleentheid vir enige kind om hul talente te ontgin.
Sonder die inkomste van klubgelde, bly dit vir Wessel ’n uitdaging om borge vir die span te kry en moes hulle self al hul hande diep in hul eie sakke druk.
Wessel is baie dankbaar vir die hulp wat hulle uit alle oorde ontvang. Mnr. Roelof Ferreira, skoolhoof van Laerskool Ermelo, het hul sportvelde beskikbaar gestel en Coastal Hire verskaf die rollers wat die kolfblad in stand hou.
Die ouers help ook waar hul kan en daar word sommer gou plan gemaak om vervoer na wedstryde te reël.
Enige skenking van kriekettoerusting, maak nie saak hoe oud dit is nie, sal baie waardeer word.
Daar is tans 28 lede in die groep tussen die ouderdomme 10 en 14 en Wessel hoop om die groep in die nabye toekoms op toer te neem.
Twee weke gelede het die Eagles hul eerste wedstryd teen Laerskool Middelburg gespeel.
Al het hulle die wedstryd verloor nadat hulle 247 lopies van die gevraagde 260 in hul 40 beurte aangeteken het, het hulle bewys dat hulle in die toekoms ’n span sal wees om mee rekening te hou.
Twee van die Eagles se kolwers wat in die wedstryd uitgeblink het, is John Fourie (54 n.u.n.) en Nthutuko Phiri (43).
Die span speel oor twee weke teen die provinsiale Bokkiespan op Ermelo Laerskool se velde. Hou die Hoëvelder dop vir meer inligting rakende die wedstryd.
Die Golden Eagles oefen Maandae, Dinsdae en Donderdae.
Vir meer inligting skakel Wessel by 082 923 1371 of Johan by 078 259 5170.
Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.
Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder
”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.
Vir nuus na jou selfoon:
BBM – 2667A726
WhatsApp – 0748877590



