Local sportSport

Ermelo bult spiere teen Bethal

Goeie spel deur die voorspelers het die grondslag gelê om genoeg balbesit aan die kookwater agterlyn te besorg wat hul kanse goed benut het.

Ermelo Rugbyklub se eerste span het geen genade getoon vir Bethal Rugbyklub in hul ligawedstryd wat Saterdag op die AJ Swanepoelstadion gespeel is nie.

Ermelo het net te veel skietgoed vir hul teenstanders gehad en die eensydige wedstryd 65-12 gewen.
Goeie spel deur die voorspelers het die grondslag gelê om genoeg balbesit aan die kookwater agterlyn te besorg wat hul kanse goed benut het.

Reeds binne die eerste vyf minute het Ermelo die Bethallers se verdediging getoets, maar die bal vorentoe verloor, ‘n meter van die doellyn af.

Skaars vier minute later het JD Terblanche die skrif teen die muur van die besoekers begin skryf met ‘n drie wat deur DC Swart verdoel is.

Met die skeidsregter se afskopfluitjie nog vars in die ore het Ermelo twee minute later weer ‘n doel aangeteken om die telling op 14 – 0 te staan te bring.

Daarna het Ermelo drie drieë gedruk waarvan twee verdoel is.

Met die telling op 33 – 0 in Ermelo se guns het die besoekers vlak voor rustyd teruggekap met ‘n drie om die rustyd-telling op 33 – 7 te staan te bring. Met die begin van die tweede helfte was Ermelo vroeg op die aanval en ná ‘n paar probeerslae om die doellyn oor te steek, het DC Swart ‘n skepskop deur die pale geklits.

Vier minute later het Ermelo die telbord verder laat aanrol tot 41 – 7 met nog ‘n drie. Die besoekers het vyf minute later geantwoord met ‘n drie deur André Hanekom 41 – 12.

Ten spyte daarvan dat hulle ‘n ruk lank ‘n speler kort was ná ‘n geelkaartvoorval, het die tuisspan ‘n verdere twee drieë en twee doele in die bestek van 20 minute aangeteken en die Bethallers laat steier.

Die eindfluitjie het verligting vir die Bethallers gebring met die telling op 65 – 12.

Vir Ermelo is Hennie van Jaarsveld en Jaco Spies onderskeidelik as voor- en agterspeler van die wedstryd gekies, terwyl Sean Duranty as die spelers se Nashua-speler van die wedstryd gekies is.

Bethal se tweede span het vir ‘n ligpunt vir die besoekers gesorg met ‘n oorwinning van 42 – 17 oor Ermelo.

Hier was Ermelo se voor- en agterspeler van die wedstryd Leonard Venter en Henkie Jacobs en Frans de Klerk die spelers se Nashua-speler van die wedstryd.

Môre (Saterdag) speel Ermelo teen Carolina op Carolina.

 

For free daily local news in the south, visit our sister newspapers Ridge Times and Standerton Advertiser.

For more news and interesting articles, like us on Facebook, follow us on Twitter or Instagram

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button