Local sportSport

Protea-krieketspeler vereer

Die room van die Suid-Afrikaanse mans -en vrouekrieketspelers word tydens dié geleentheid beloon.

Ermelo se “eie” Protea-vroue-krieketspeler, Lizelle Lee, is die afgelope naweek tydens Krieket SA se jaarlikse toekenningsgeleentheid deur haar medespelers as die Spelers se Speler van die Jaar aangewys.

Lizelle het haar toekenning ontvang tydens ‘n glansgeleentheid in die Theatre on the Track by Kyalami, Gauteng.

Die room van die Suid-Afrikaanse mans -en vrouekrieketspelers word tydens dié geleentheid beloon vir hul toegewydheid en uitmuntende prestasies op die plaaslike sowel as internasionale krieketvelde.

Lizelle het reeds as leerder by Ligbron Akademie vir Tegnologie op die krieketveld uitgeblink en benewens verskeie skolespanne was sy onder andere lid van die Mpumalanga-vrouespan, Noordwes-vrouespan en SA opkomende spelerspanne en het ook vir die Engelse graafskapspan Somerset gespeel.

Dié kranige krieketspeler het haar internasionale buiging vir die SA Proteas se eendag- en T20-spanne in September 2013 in die reeks teen Bangladesj gemaak. Sedertdien het sy in 51 eendagwedstryde en 37 T20-kragmetings vir die Proteas gespeel.

Sy het tot op hede 1 457 lopies in eendag-wedstryde opgestapel en 729 lopies in die T20-formaat aangeteken.

By uitstek ‘n spesialis in die korter weergawe van die spel, het sy ook die Proteas in ‘n toetswedstryd in die langer formaat van die spel verteenwoordig.

Lizelle Lee, Protea-vroue-krieketspeler. (Foto: Getty Images)

 

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.

Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder

”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button