Karatekas presteer by SA’s en Clarke is kumite-kampioen
Shani Clarke is die nasionale kumitekampioen na sy die voormalige (2019) kampioen uitgestof het om die gouemedalje te vat.
Clarke is JKA Phalaborwa se nuutste Suid-Afrikaanse kampioen en ontvang ook ‘n bronsmedalje vir Kata by die nasionale kampioenskappe waar sy Limpopo verteenwoordig het op 21 Mei in Johannesburg. “Die senuwees het erg geknaag, maar in die finale ronde teen die vorige SAkampioen van 2019 kon sy daarin slaag om die gouemedalje te wen. Dis die tweede jaar wat sy aan die kampioenskap deelneem en medaljes asook nasionale klere ontvang,” vertel JKA Phalaborwa se Sensei Andrea Pretorius.

Die kampioenskap word een keer ‘n jaar gehou waar meer as 4000 karatekas van regoor die land deelneem. Daar was strawwe kompetisie en tot 42 deelnemers van alle provinsies het per afdeling aangetree vir die kampioenskappe. “Om aan die kampioenskap deel te neem moet ‘n karateka kwalifiseer by die provinsiale kampioenskap. Hierdie karatekas ontvang almal Limpopo-klere met hulle deelname aan die SA’s. Vir meeste van hulle was dit die eerste keer wat hulle aan die SA’s deelneem,” verduidelik Pretorius.
Also read: How to run your home like you run your business
Carmen Vermaak ontvang in die eerste jaar wat sy Limpopo verteenwoordig by die kampioenskappe ‘n bronsmedalje in kumite. Sy ontvang sodoende ook nasionale klere. Divan Bothma ontvang ‘n bronsmedalje vir kumite. Dit is die eerste jaar wat hy aan die SA’s deelneem en Bothma ontvang ook nasionale klere. “Dis die eerste keer in twee jaar wat hierdie karatekas weer kon deelneem na Covid-19-inperking en hulle het almal goed presteer. Met harde werk kom goeie resultate.
Ons is baie trots op almal van hulle,” sê Pretorius. Jovan Pretorius, AbdulMuhaymien Mahomed, Maajidah Mahomed, Aiden Thompson, Niël Helberg, Suané Moller, Attiyyah Crombie, Rilan Milford, Eduan Naude, Righardt Fourie, Rinaldo Pretorius, Hein Botha en Nadia Mahomed het provinsiale klere verwerf en Limpopo verteenwoordig by dié kompetisie.



