Stroopsoet lekkerte vir almal
Terwyl Suid-Afrikaners vir eers die gladde tekstuur van avokadopere tydelik vaarwel moet toeroep, is die seisoen van die ewe heerlike, stroopsoet eweknie, mango's, goed op dreef.

Terwyl Suid-Afrikaners vir eers die gladde tekstuur van avokadopere tydelik vaarwel moet toeroep, is die seisoen van die ewe heerlike, stroopsoet eweknie, mango’s, goed op dreef.
Tot en met Maart word tonne mango’s deur verskeie kanale versprei en is dit vir die beperkte tyd op die rakke beskikbaar. Van die totale oes word 20- tot 23 persent na atjar verwerk, 25 word in gedroogde peuselhappies omskep, 27 persent gaan aan die nasionale varsproduktemarke, en slegs drie persent word na die Midde-Ooste, Ghana en Afrika uitgevoer terwyl kleinhandelaars en die sogenaamde bakkiemark die res opraap. Volgens Derek Donkin, hoof- uitvoerende beampte van Subtrop, is die kwaliteit van die laasgenoemde heeltemal op standaard. “Dit is gewoonlik twee of derde graad met klein kneusplekke of vlekke op, maar die binnevrug bly dus ongedeerd. Dit is steeds belangrik om die vrugte te was voordat dit verbruik word,” sê Donkin.
Hy voeg by dat die afgelope paar jaar se totale oes van dié gewas effe teleurstellend was. Volgens die Suid-Afrikaanse Mangokwekersvereniging is die kwaliteit wat gebied word vir die gemiddelde verbruiker steeds baie goed, alhoewel daar ‘n beperkte beskikbaarheid gaan wees. Nou dat hierdie vitamien C-belaaide wondervrug weer op die rakke is, is dit belangrik om te weet hoe jy die beste voordeel uit die seisoen kan trek.
Mango’s is reg om te geniet wanneer die vlees effe padgee wanneer dit liggies gedruk word. ‘n Beter manier om te bepaal of die vrug ryp is, is om aan die punt van die oorblywende stam te ruik. Wanneer dit ‘n geurige aroma afgee, is dit gereed om aan gesmul te word. Indien dit die geval is, is dit vir onmiddelike gebruik geskik.
Mango’s se kleur wissel tussen geel en groen, of rooi met ‘n pers ondertoon – dus is die kleur nie ‘n goeie aanwysing van sy eetbaarheid nie. Indien jy ‘n handjievol vir jou kinders of gaste wil hou, koop verkieslik dié met ‘n stewiger vlees. Dit sal dus vinnig ryp word sodra dit langs ryp vrugte soos piesangs gestoor word. Sodra dit gereed is, is dit belangrik om dit in die yskas te stoor om die varsheid te behou. Sodra dit verwyder word gaan die vrug uiters vinning af.
Wanneer ‘n volwasse mango rypgemaak moet word, is die ideale temperatuur 18 tot 23°C. Afhangende van die temperatuur, tyd van seisoen en raklewe, vat die rypmaakproses ongeveer drie tot vyf dae na aankoop.
