Die Laeveld skud sy vere behoorlik reg vir Innibos

Die Laeveld skud sy vere behoorlik reg vir Innibos, wat in Junie vanjaar weer ’n volwaardige kunstefees in Mbombela aanbied.

Die datums is 29 Junie tot 2 Julie, en oudergewoonte is die feesterrein by Hoërskool Bergvlam.

Die hekke open daagliks om 10:00, en elke feesdag word met ’n musiekkonsert op die Innibos-hoofverhoog afgesluit. Die Huisgenoot Afskop-konsert, die Jacaranda FM- en die kykNET-konserte op dié verhoog bied elke aand puik vermaak met van Suid-Afrika se beste kunstenaars. Hierdie konserte is by die hektoegang ingesluit. Spoegwolf, Francois van Coke, Riaan Benade en Appel is maar net ‘n paar van die sangers wat jy hier in aksie sal sien.

Daar is drie kuierverhoë op die feesterrein, waar puik vermaak bedags aangebied word. Kom luister na bekende én opkomende kunstenaars, waaronder Caroline-Grace Brüssow, Reën, Muller Brandt, David Fourie en Jakkie Louw, wat vanjaar ‘n vars briesie na Innibos se drie kuierverhoë bring.

Die Boma Kuierteater op die feesterrein bied klein brokkies teater, en Woelwaters is ‘n heerlike kindervermaak- en speelvenue. Daar is ‘n oorvloed stalletjies met pragtige handgemaakte produkte, asook kosstalletjies wat ’n groot verskeidenheid heerlike feeskos bedien, en ‘n pretpark wat vir opwinding sorg.

Aan die toneelfront kan feesgangers die doyenne van Afrikaanse teater, Sandra Prinsloo, te siene kry in die drama, Kamphoer. Ligter oomblikke sluit in die komedies Laerskool NoordReünie, en Hans gee Herklaas horings. Die nimlike Magda Louw met Desiré Gardner maak ’n draai by die fees.

Daar kan uitgesien word na musiekproduksies soos onder andere Coenie de Villiers en André Schwartz in Grensloos, en Jak de Priester en Bibi Slippers se produksie De Priester, De Slippers en De Gin, wat beloof om ’n unieke ervaring te wees.

Trek jou feesskoene aan en kom vier behóórlik fees!

Die volledige program en kaartjie-inligting is beskikbaar by Innibos webtuiste

Innibos Feesgits

Innibos Feesgits

Innibos Feesgits

Click here to view

Back to top button