Skilder se kunswerk praat met ‘n mens
“Kinders is onskuldig en vrolik en dit help my om daardie happy moments vas te vang - daardie oomblikke wat met jou práát.”
LYDENBURG – “As jy niks hoor nie, het hy nie gepraat nie.” Dis nie net hoe Esme Naudé kuns in ‘n neutedop beskryf nie, maar dit blyk ook die beginsel te wees waarvolgens elke skildery van haar die wêreld ingestuur word.
Wanneer verwonderde kunsliefhebbers woordeloos voor haar kunswerke tydens haar jaarlikse uitstalling staan, besef mens opnuut dat sy nie net daarna streef om prentjiemooi tonele op die skilderdoek vas te vang nie, maar eerder ‘n glimlag te verf op die hart van elke kunsliefhebber. Sy verduidelik dat haar inspirasie uit die mooi van die lewe spruit, uit tonele, oomblikke, prentjies, gedagtes en selfs uit foto’s. “Mense se reaksie op my kunswerk is bevredigend en as my werk enige emosie in iemand se gemoed lostorring, voel ek het geslaag,” vertel sy met ‘n sagte kyk in haar oë.
Naudé kom uit ‘n kunstenaarsfamilie en het van kleintyd af ‘n voorliefde vir kuns, teken en grafiese kuns gehad en reeds van ‘n vroeë ouderdom af verskeie nasionale sowel as internasionale toekennings ingepalm. “My ma het altyd geskilder en so ook my oupa, met die gevolg dat ek omring was deur verskeie kunswerke wat my van kleintyd het inspireer het.”
Sy het na skool tekstielontwerp studeer en sowat 13 jaar gelede voltyds begin skilder, waarvan vier jaar daarvan solo is. Ongeveer 70 skilderye word per jaar deur haar geskep en sy geniet veral om kinders te skilder. “Kinders is onskuldig en vrolik en dit help my om daardie happy moments vas te vang – daardie oomblikke wat met jou práát.”



