Stokvel maak ‘n Griekse sprokie moontlik
"Tussen hierdie vroue kan ons onsself wees en het ons nie nodig om voor te gee nie. Een maal per maand en klink 'n glasie wyn, of 'n paar daarvan, op die spesiale vriendskap".
MBOMBELA – Seerowerskepe, Santorini, spierwit strande en sonsondergange. Dis maar net ‘n paar woorde wat opduik wanneer jy agt plaaslike dinamiese oor hul onlangse Griekse avontuur, wat alles met ‘n stokvel 10 jaar gelede begin het, uitvra.
‘n Stokvel is ‘n bekende Afrika-konsep wat verwys na ‘n tradisionele wyse waarop geld gespaar en aangewend word. Karen du Preez, Annalie Viljoen, Marlize van Zyl, Riana Swanepoel, Alida Bekker, Petro Simmons, Maaida Miljo en Sandra Jacobs het egter nuwe betekenis aan dié konsep gegee toe hulle vier jaar gelede op ‘n tiervisuitstappie op die Juzini-dam, vrou-alleen besluit het om te spaar vir ‘n stokvel-vakansie – in Griekeland!
“Dit was ons dream destination en ons het besluit om elke maand ‘n ekstra geldjie by te sit,” vertel Sandra. Dit het hul vier jaar geneem om die R24 000 per persoon in te samel.
“Ons stokvel het 10 jaar gelede gestalte gekry langs die bulletjie-rugbyveld waar ons kinders saam gespeel het,” skerts hulle. Dit het aanvanklik met 12 lede begin, maar staan nou op ‘n hegte nege. “Ons is saam deur matriekeksamens van ons kinders, verlowings, troues, geboorte van kleinkinders, siekte, vreugde en hartseer vertel Sandra en Annalie sluit by haar aan. “Tussen hierdie vroue kan ons onsself wees en het ons nie nodig om voor te gee nie. Een maal per maand en klink ‘n glasie wyn, of ‘n paar daarvan, op die spesiale vriendskap”.
Hulle meen dis groot pret om dinge saam te doen en bedink klaar planne vir ‘n volgende “trippie”. Die hegte groep vriendinne moes die laaste lid van die kamerade, Ilze Griffijoen, agterlaat nadat sy ‘n paar dae voor hul reis ‘n enkelbesering opgedoen het. “Dit was beslis ‘n laagtepunt. “Volgende keer gaan sy beslis saam, maar ons het gereeld haar op hoogte gehou van waar ons was”.
Donkieritte teen 550 trappies uit in Santorini, van ‘n seerowerskip afduik en swem na ‘n see-warmwaterbron, die sonsondergang by die Griekse Ortodokse kerkie op Mykanos waar daar wyn gedrink is en vars vye tydens sonsondergang geëet is van die hoogtepunte wat hulle onthou. Die lys gaan aan.
Aktiewe vulkane uitklim, skemerkeltjies drink in Athene se hotel, varsgebakte brode en doughnuts wat drup van die heuning eet. “Daar was eenvoudig net te veel wow-oomblikke, sê Karen.
Die kos en drank blyk duidelik ‘n hoogtepunt op sy eie te wees en almal se monde water van vooraf. “Ek het nog nooit oondgebakte fetakaas geëet nie – hulle noem dit Bouyioude en dit word in foelie saam met ‘n paar kruietakkies en olyfolie gebak,” verduidelik Sandra terwyl Marlize, Moussaka uitwys en tussendeur duik die woord “gyro” ook op. “Dit is Griekeland se tradisionele straatkos – ‘n pitabroodjie met vleis, tsatsiki, uie, tamatie en aartappelskyfies,” verduidelik hulle en ek wens skielik ek was ook daar. Alhoewel nie een van hulle regtig bierdrinkers is nie, het hul nie gehuiwer om die “donkie bier” en Santorini se vulkaanbier te probeer nie. Die rooiwyn was egter ‘n wenner. “Vir vier euro kry kry jy ‘n liter rooiwyn en daarvan kan jy maar genoeg drink – dis nie swaar nie en dit smaak heerlik.” Op ‘n warm dag soos hierdie klink Griekeland na die plek om te wees.
Jammas!, wat gesondheid in Grieks beteken, sê jy sommer vir jouself en stuur ‘n skietgebedjie op dat iemand jou tog ook sal uitnooi na ‘n stokvel – want die tipe stokvel klink glad nie na ‘n onaardige idee nie!

















