EntertainmentFeaturesGalleriesInnibos FotoInnibos NuusLifestyleLocal newsNews

Gallery: Rockers van die fees juig kliphar(t) saam

Van die ander hoogtepunte was Van Coke en Jack Parow se pogings om te crowd surf en die onderklere wat op die verhoog gegooi is, soos wat dit 'n goeie rock-show betaam.

As jy gewonder het of Karen Zoid en Francois van Coke die skare van die MK-Rockverhoog sou verras met hul jongste treffer, kan jy nou rustig slaap, want hulle het.

Die twee rock-legendes se gesamentlike treffer, “Toe vind ek jou” het gesorg vir hoendervleis, en selfs ‘n paar trane, tydens dié verhoog se opening Vrydagaand.

Karen Zoid en Francois van Coke.
Karen Zoid en Francois van Coke.

Van die ander hoogtepunte was Van Coke en Jack Parow se pogings om te crowd surf en die onderklere wat op die verhoog gegooi is, soos wat dit ‘n goeie rock-show betaam.

‘n Paar acts wat egter ook die kollig gesteel het, was die bydraes van Stellenbosch se rooikop-kitaarman Gerald, Clark, Black Cat Bones se baskitaarspeler, Chris van der Walt en Van Coke Kartel se tromspeler, Jason Oosthuizen. Die gehoor was ietwat stadig om teenoor die trio op te warm, maar teen die einde van die stel kon die mense nie meer hulle voete stilhou nie.

Gerald Clark en Chris van der Walt.
Gerald Clark en Chris van der Walt.

“Dié ouens, mal soos hulle is, weet hoe om hárd lawaai te maak en hulle jam werk so lekker saam met my groove,” het Clark vroeër die dag gesê.

Monark was die nuwelinge op die verhoog, maar die Innibossers het al hulle eerste twee liedjies geken. Die gehoor het vir die electrorock-klanke saamgetrek en die geluid van duisende mense wat met “Smiling” en “Build it up” saamsing, het oor Hoërskool Bergvlam se netbalbane weergalm.

Met die litte los en gesalfde gesindhede het Bittereinder die verhoog betree… en vir feesgangers geleer hoe om hulle naam te spel. Die elektroniese groep het al groot naam vir hulself in die bedryf gemaak en dit is asof hulle net met elke vertoning verbeter. Maar, selfs dié drie het langs die verhoog gestaan om die volgende vertoning gade te slaan.

Bittereinder.
Bittereinder.

Francois van Coke is een van die Laeveld-rockers se gunstellinge, en daar is geen twyfel waarom nie. Die man is nou maar net ‘n rock-genie. Behalwe vir Loutjie Rothman, was die lede van sy groep glad nie bekend nie, tog het hulle ‘n wêreldklasvertoning verskaf. Dít dui net op die man se vermoë om homself as solo-kunstenaar te laat geld.

As jy jou geldjies wou spaar om eerder vanaand te kom luister, maar voel jy het nou ‘n bietjie uitgemis, cheer up! ‘n Paar rock-kenners glo die Van Coke/Zoid-rockpaar sal vanaand weer saam die verhoog betree.

Karen Zoid en Francois van Coke.
Karen Zoid en Francois van Coke.

Al verlaat die maan vanaand sy wentelbaan en tref die aarde of al spoel ‘n bonatuurlike tsoenami die hele dorp weg, is dit nog steeds nie genoeg rede om vanaand se vertonings mis te loop nie. Oud-Nelspruiter, Jonathan Peyper gaan sy kitaar vanaand aan die brand speel saam met Chris van der Walt en Jason Hinch. Black Cat Bones gaan weer onheil onder die kollig veroorsaak met hul hipnotiese blues en Frankie Fire, Len Muller, Saarkie, Spoegwolf en Van Coke Kartel gaan ook vir topgehalte rock sorg.

Die verrigtinge begin om 17:00.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button