Krog se werk in note saamgevat
Hy was verniet op sy senuwees. Sy akoestiese weergawe van haar ''Dogtertjie in die Tuin'' het elke persoon by die Suikerbossie Teetuin tydens Innibos omgeboul.
“Ek dink ek is out of my league,” het ‘n benoude Gerald Clark gesê net voordat hy Vrydag een van Antjie Krog se gedigte voor ‘n gehoor moes sing. “Sy is een van die mees gesogte Afrikaanse skrywers en digters en ek weet nie of ek die gedig tot sy reg laat kom het nie.”
Hy was verniet op sy senuwees. Sy akoestiese weergawe van haar ”Dogtertjie in die Tuin” het elke persoon by die Suikerbossie Teetuin tydens Innibos omgeboul. Clark is sowat ‘n maand gelede deur Innibos-organiseerders genader om Krog se gedig te toonset en hy het hom uitstekend van sy taak gekwyt.

Twee digters het Krog op die verhoog vergesel. Tebu Mokhali is ‘n dowe digter van Bloemfontein en Mannini Mokhothu ‘n Sotho-digter met ‘n nederige begin, wat tans besig is om haar meestersgraad in letterkunde aan die Central Royal Literary Academy in Londen te verwerf.
Mohkali het sy roerende gedigte in gebare taal voorgedra en ‘n tolk van Jazz Hands het vir hom vertaal. Ná sy vertoning, moes ‘n paar trane van die gehoor weggevee word.

Krog en Mokhothu het saam van hul eie gedigte voorgedra – elkeen in hul eie taal. Terwyl Mokhothu in Sotho voorgelees het, het Krog haar harmonies in Afrikaans nageboots. “Dit klink awesome,” het Clark gesê terwyl hy oopmond na dié twee se uitbeelding van ‘n stoomtrein geluister het. “Hulle stemme flow bo-oor mekaar, maar tog kan mens nog presies hoor wat hulle sê.”

As deel van die viering van Afrikaanse literatuur, is kunswerke deur Ilona Petzer, Annalie Odendaal, Erica Schoeman, Celeste Higgs en Mariana Zwaan uitgestal. Alles is uitbeeldings van Krog se gedigte.
