Die Laeveld Lekkerbekke het onlangs by Orange aangesit
Dit is hier by Orange wat die Lekkerbekke al die bekende Kaapse wynmeester, Chris de Klerk van Cape Legends-wyne telkens onthaal het en waar hy graag sy uitsoekwyne bekendstel

Dit gebeur selde of ooit dat die Laeveld Lekkerbekke, wat al drie jaar bestaan, twee keer by dieselfde eetplek aansit. Daarvoor is daar net teveel beweging op die plaaslike restaurantfront en genoeg goeie eetplekke om die aanbod nuut en konstant te hou.
Die enigste plek wat meermale besoek is, is Orange – drie keer. Dis seker maar omdat mens iewers tog ‘n tuiste moet hê; iewers waar jy weet, jy altyd ‘n aangename ervaring te wagte kan wees.
Dit is hier by Orange wat die Lekkerbekke al die bekende Kaapse wynmeester, Chris de Klerk van Cape Legends-wyne telkens onthaal het en waar hy graag sy uitsoekwyne bekendstel – elke keer met ‘n gepaste spyskaart saamgestel deur restaurantbaas, Lee Anne Benade. Die Lekkerbekke is ‘n gesellige groep Laevelders wat gereeld saam uiteet.
Die lede het oor die jare na byna 100 toegeneem, maar net 30 word per keer om die tafel toegelaat. Dié wat uitsit, geniet weer voorrang met die volgende uitnodiging.
Durbanville Hills se baie spesiale Rhinofields-reeks is vir ‘n tweede keer op die proef gestel. Rob van Breda van Cape Legends-wyne in die Laeveld het vroeër vanjaar vir ‘n soortgelyke bederf by die ewe uitstekende eetplek Zest op die pad na Lydenburg gesorg. Toe was Chris ook hier, maar hy is huiwerig om te sê
watter van die twee hy persoonlik die voortreflikste vind.
By Orange is die gaste onlangs laatmiddag teen die sakkende son op yskoue Rhinofields sauvignon blanc getrakteer. Die proenotas beskryf die wyn so: Kleur – liggroen; boeket – winterspanspek, kiwivrug, grenadella met ‘n tikkie kruieagtigheid; smaak – watertand-elegansie met kiwivrug- en winterspanspekgeure en ‘n talmende pikante nasmaak.
Tydens die voorgereg – gerookte salm-en-garnaalterrien bedien met ‘n slaaitjie van jong spinasieblare en ertjiepuree – is Durbanville Hills Rhinofields chardonnay voorgesit. Nou dat ek dit reeds ‘n paar keer geproe het, verklaar ek hierdie chardonnay amptelik my gunstelingwitwyn. Teen R110 per bottel op die mark, is dit net vir spesiale geleenthede weens geldelike oorwegings en my geneigdheid om witwyn soos water te drink.
Die hoofgereg was ‘n keuse van filetkebabs met ‘n unieke biltongsous bedien met aartappelkrokette en groente of ‘n uitstekende coq au vin bedien op roosmarynkapokaartappels. Hiermee was dit Durbanville Hills Rhinofields Pinotage of Merlot.
Die nagereg was profiterole of sjokolade-éclairs. In die glas was Monis se bekroonde Muskadel – yskoud. Orange bedien fynproewerkos.
Anders as baie ander sulke plekke is hulle nie huiwerig met hul porsies nie. Mens eet goed. Hierdie tyd van die jaar is Orange besig, maar daar kan nie ‘n beter afsluiting vir nog ‘n wonderlike jaar in die Laeveld wees as ‘n lekker bederf-aansitetetjie by Orange nie. Bel vir Lee Anne by 083-628-7759.











