GalleriesLocal newsNews

Kersloffees vier geloof, hoop en liefde

'n Skouspelagtige weergawe van "Jerusalem" het die aand afgesluit.

Verlede Sondag se Loffees by die Communio-ouditorium in Mbombela was ‘n fees van geloof, hoop en liefde. Verskeie plaaslike en nasionaal bekende sangers het die mooiste boodskappe op die vleuels van musiek gebring. Hierdie dubbeldosis musiekfees het vanjaar met twee vertonings gespog.

‘n Loffees vir bejaardes het vanaf 11:00 bekoor. Plaaslike sangers, Vasti, Eugene en Geraldine Scholtz het die gehoor saam met Rudi Muller en Cordelia vermaak. Organiseerder Koos Schoonraad het vertel dat die gaste dit terdeë geniet het. Hulle het daarna lekker saam tee gedrink.

André Schwartz, Corlea Botha en Jannie Moolman het vir die tweede vertoning by die groep aangesluit. André het die aand opgesom: “Hierdie mooi dag gaan oor liefde en onderskraging,” het hy gesê.

André Schwartz.
André Schwartz.

 

Nadat die mikrofoon waarmee hy moes sing, probleme gegee het, het hy sy vertoning a cappella voortgesit.

André het met “Sonneblom uit Bethlehem” en “You raise me up” gewys waarom sy stem al vir jare groot gehore trek.

Hierna is Jannie en Corlea met ‘n groot applous verwelkom. Hulle weergawe van “The Prayer” het veral beïndruk. Volgens I’langa Mall se bemarkingsbestuurder, Hanlie Lombaard, was toeskouers gaande daaroor.

Jannie en Corlea.
Jannie en Corlea.

Die programsamestelling is veral gekomplimenteer, maar toeskouers het baie oor die klankgehalte te sê gehad. Laevelder het van Annette Smith verneem dat daar ontevredenheid hieroor geheers het. Daar was volgens Smith ‘n klankverwringing wat toeskouers gesteur het. Hieroor sê klankman, Sakkie Coetzer dat hy die klankbalans voortdurend gereguleer het. “Die saal het wél ‘n moeilike akoestiek en ons moes deurgaans daarvoor kompenseer,” het Coetzer gesê. Corlea en André het Sakkie van die verhoog af vir sy harde werk in hierdie verband bedank en gesê dat hy hom goed van sy taak gekwyt het.

Organiseerder, Koos Schoonraad was in sy noppies met die 2015 Loffees. “Dit was ‘n fees ter ere van God. So ook het die geleentheid ‘n doel vir liefdadigheid gedien. ‘n Totaal van R24 000 is tot voordeel van verskeie liefdadigheidsorganisasies ingesamel, waarvan R8 000 vir die stryd teen borskanker aangewend sal word. Tough Living with Cancer het R3 000 ontvang, Huis Bethlehem het R8 000 gekry en ‘n bedrag van R5 000 is aan die Lions Club se kinderfonds toegeken,” het Schoonraad bevestig.

Al die kunstenaars was saam op die verhoog.
Al die kunstenaars was saam op die verhoog.

‘n Skouspelagtige weergawe van “Jerusalem” het die aand afgesluit. Dit is deur Corlea en Jannie gelei en al die sangers het by hulle vir die koorgedeelte aangesluit.

 

 

 







 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button