Community galleriesGalleriesLocal newsNews

Kwetternes Kleuters nou gereed vir die grootskool

Die skool het totsiens gesê aan 32 kleuters wat aanstaande jaar “grootskool” toe gaan.

KOMATIPOORT – Kwetternes Kleuterskool het op 15 November hul jaarlikse “gradeplegtigheid” gehou waar die gr. R’e hul kleuterskooljare amptelik afgesluit het.

Die skool het totsiens gesê aan 32 kleuters wat aanstaande jaar “grootskool” toe gaan.

Skoolhoof Sarette Nell het almal hartlik welkom geheet en vertel dat dit nie so maklik is om totsiens te sê nie. “Sommige van die kinders wat die skool nou verlaat is sedert die doekestadium al in Kwetternes. Dankie dat u hulle aan ons sorg toevertrou het. Dit is sekerlik elke ouer se begeerte dat hul kind eendag suksesvol sal wees. Elke ouer wil voel dat hy die beste vir sy kind gegee het. Miskien moet ons ophou om in tydskrifte, boeke en by mense te soek vir sukses en eerder na God draai vir hulp. In Sy Woord is daar duisende beloftes. Hy wil hê dat ons suksesvol en geseënd wees.” Sy het ‘n gedeelte uit Deuteronomium 28:1-11 voorgelees wat van die beloftes inhou.

Sonja Loock, arbeidsterapeut, het ‘n paar belangrike praktiese wenke met die ouers gedeel om hul te help dat hul kinders so maklik moontlik kan aanpas in hulle nuwe skool:

• Maak seker jou kind besoek vooraf die skool en weet waar die klasse en die badkamers is.

• Hulle moet weet hoe die dag gaan verloop, dat daar twee pouses is en dat hul tussenin moet werk.

• Berei die kind voor dat hulle nie noodwendig saam met hul maatjies in die klas gaan wees nie en met ander kinders ook maats moet te maak.

• Maak seker die kind weet hoe om sy tas oop en toe te maak en wat daarin is. Hulle moet weet dat hul verantwoordelik is vir alles en dat dit terug huis toe moet gaan.

• Wees altyd stiptelik by die skool en reël met jou kind dat jy hulle op ‘n sekere plek sal oplaai na skool. Moenie laat wees nie.

• Indien jou kind op dag een ‘n uitbarsting het, stel hulle gerus en help hulle deur opbouende woorde.

Die kleuters het in togas hul opwagting op die verhoog gemaak. Elkeen het met die uitroep van hul naam ‘n klokkie gelui wat die einde van hierdie fase van hul lewe afgesluit, en ‘n nuwe toekoms ingelui het. Hulle het dan trots op die verhoog na juffrou gestap waar hul ‘n diploma ontvang het.

Pittige sêgoed en antwoorde op vrae deur die onderwysers is voorgelees en ouers het dit baie geniet.

Na die tyd is daar saamgekuier en verversings geniet.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button