GalleriesLocal newsNews

Nuwe Suid-Afrikaanse komedie oppad na die groot skerms

Keeping up with the Kandasamys is in die Suid-Afrikaanse dorp, Chatsworth, in Durban verfilm.

Die suksesvolle vervaardigers van Hard to Get en die lokkettreffer, Happiness is a Four-Letter Word, is terug met ’n splinternuwe kompeterende, familiekomedie met Durbanse filmmaker, Jayan Moodley (White Gold), as regisseur en mede-draaiboekskrywer saam met Rory Booth en bekroonde duo – Helena Spring (Oscar Genomineerde en Mbokodo-wenner) en Junaid Ahmed (wat in November 2016 oorlede is) – as vervaardigers.

Keeping up with the Kandasamys is in die Suid-Afrikaanse dorp, Chatsworth, in Durban verfilm. Dit gee kykers die geleentheid om die leefstyl en sub-kultuur van die land se Indiese gemeenskap te ervaar en te sien wat hulle doelwitte, drome en uitdagings is. “Dit was heerlik om die fliek in Chatsworth te skiet. Dit is ’n ikoniese plek, net soos Distrik Ses of Soweto. Die gemeenskap is lewendig en sprankelend en ek dink dat ons dit reggekry het om, so tussen die humor deur, die unieke eienskappe en siel van hierdie area op so ’n manier vas te vang, dat gehore regoor die wêreld verlief sal raak op die plek en sy mense,” sê Moodley.

Sien ook: Sterre kom kuier, Jou Romeo.

Dié komiese fliek, met Jailoshini Naidoo (Eastern Mosaic, Lotus FM) en Maeshni Naicker (Broken Promises) in die hoofrolle, vertel die verhaal van twee matriargale aardsvyande van buurgesinne, wie se kinders op mekaar verlief raak, ten spyte van hulle beste pogings om die twee se verhouding te kelder. Dit dwing hulle om te besef dat ware liefde altyd wen.

Shanti Naidoo (Maeshni Naicker) is ’n tipiese A-persoonlikheid. Sy is altyd besig, gaan uit haar pad uit om ander mense gelukkig te hou en probeer opmaak vir haar tekortkominge deur gereeld ’n storm los te kook in die kombuis. Haar lewe sou perfek gewees het, as dit nie vir haar buurvrou, Jennifer Kandasamy (Jailoshini Naidoo), was wat haar altyd een voor is nie.

Wanneer Jennifer besef dat haar pragtige rabbedoe-dogter, Jodi (Mishqah Parthiephal), verlief is op Shanti se seun, Prinesh (Madhushan Singh) – ’n sagmoedige mediese student, is sy vasberade om die verhouding stop te sit. Sy het egter die hulp van haar aardsvyand nodig om haar plan uit te voer. “Die twee vroue konkel en beplan saam, soek ander potensiële maats vir hulle kinders, en meng oor die algemeen net in waar hulle kan,” sê vervaardiger, Helena Spring.

Mishqah Parthiephal, wat bekend is vir haar rol as Vania in die sepie, Skeem Saam, is baie opgewonde om deel te wees van die projek. “Toe ek hoor dat daar oudisies gehou word vir ’n groot fliek in Durban, het ek geweet dat dit ’n geleentheid is wat ek nie moet mis nie. Ek het toe die ses-ure van Johannesburg na Durban aangedurf sodat ek my oudisie kon doen. ’n Paar weke later het ek gehoor dat ek die rol gekry het,” vertel sy. “Ek dink dat Keeping up with the Kandasamys ’n pragtige storie is, wat dit regkry om die Indiese kultuur in Durban behoorlik vas te vang. Ek kan nie wag om dit met die wêreld te deel nie.” Oor haar rol as Jodi, sê sy, “Ons is op baie maniere dieselfde. Sy is ’n sterk vrou wat nie bang is om te sê wat in haar hart aangaan nie. Sy is goedhartig en liefdevol. Ons deel ook dieselfde kleresmaak en leef albei in kortbroeke en tekkies!”

Sien ook: Video – Twee leeuwelpies en een stok.

Hierdie ligsinninge, maar aangrypende, prent kry lewe met behulp van ’n verskeidenheid kleurvolle karakters, wat die ryk, pikante leefstyl in Durban vier en uitbeeld. Bekende Suid-Afrikaanse verhoog-akteur, dramaturg en regisseur, Rajesh Gopie, speel Shanti se man, Preggie, terwyl die komediant, Koobeshen Naidoo, die rol van Jennifer se man, Elvis, vertolk. Hierdie twee karakters bly egter altyd op die agtergrond omdat hulle konstant deur hulle domineerende vroue oorskadu word. Jodi se vriend en plaaslike troubplanner, Marlin (Neil Govender), is flambojant en elegant en Aya (Mariam Bassa) – Jennifer se bejaarde, kritiese skoonma, wat nie nonsens vat nie – verteenwoordig die tipiese Indiese ouma wat gewoonlik by families inwoon. Haar pittige sêgoed en dieper insigte sal beslis die harte van kykers raak.

“Dit is ’n fliek vir almal. Die universele tema van wedyewering tussen bure, die behoefte om aanvaar te word en die klim in sogenaamde sosiale sukses en status, is iets waarby almal kan aanklank vind. Op die ou einde sal elkeen van ons ons eie eienaardighede en swakpunte, asook die komiese kant van die vreemde, wonderlike en kompeterende wêreld waarin ons leef raaksien,” verklap regisseur Jayan Moodley oor haar eerste vollengte speelfilm.

Keeping up with the Kandasamys beloof om gehore te vermaak met skreeusnaakse tonele oor families, verhoudings en buurt-afguns. Dié rolprent, wat musiek deur Kyle Deutsch en The Parlotones insluit, is vervaardig in samewerking met M-Net, die DTI en NFVF, word versprei deur Ster-Kinekor Entertainment en sal op 3 Maart in fliekteaters, regoor die land, uitgereik word.

Lees ook: Ontvoerde baba gevind.

Oor die hoofakteurs

Jailoshini Naidoo (Jennifer Kandasamy):
’n Bekroonde Suid-Afrikaanse aktrise, stemkunstenaar en komediant wat al in van die land se voorste teaters opgetree het, soos The Market Theatre, Baxter Theatre, The Playhouse, asook by die Grahamstown- en Hilton-kunstefeeste. Hierdie voormalige aanbieder van SABC2 se Eastern Mosaic en kontinuïteitsaanbieder op M-Net, is tans die aanbieder van die radioprogram, The Weekend Liftoff, Saterdagoggende op Lotus FM in Durban. Sy is ook te sien in die Britse fliek, The Eastern Bride, die Italiaanse fliek, Karol, en die gewilde Britse reeks, Strike Back 2.

Maeshni Naicker (Shanti Naidoo):
’n Verhoog- en filmaktrise, stemkunstenaar, radiopersoonlikheid, komediant, gewilde vroulike seremoniemeester en dramaonderwyser. Nadat sy haar dramagraad voltooi het, hou sy aan toneelspeel en om drama by skole aan te bied. Later stig sy haar eie dramaskool, The Maeshni Naicker Academy of Drama. Sy is bekend vir haar rolle in Broken Promises (1, 2 en 3), Highway Sheila31 MillionThe Dance en die internasionaal-bekroonde fliek, Florida Road.

Persverklaring deur: Starburst Promotions.

Fotos deur: Helena Spring Films / Junaid Ahmed Productions

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button