GalleriesLocal newsNews

Genadedood vir katte by DBV beloop meer as 50 persent

Uit die 51 katte wat ingebring is gedurende Desember, is 26 die genadedood toegedien. Slegs ses is aangeneem, en 17 is aan natuurlike oorsake dood.

MBOMBELA – Mense moet mooi dink voor hulle besluit om troeteldiere aan te neem. So maan die plaaslike DBV, wat oor die feestyd weereens verskeie diere sonder huise ingeneem het.

Gedurende die feestyd word daar oor en weer vertel van eienaars wat hul diere by die DBV aangee as rondlopers, en dan na hul heerlike vakansie terugkeer en hul diere kom eis.

Voorsitter van die DBV, Lize Pienaar, meen dit is ‘n moontlikheid, aangesien mense alewig verskonings het, maar dat dit nie so eenvoudig is nie, en dat mense sekere kostes in ag moet neem voordat hulle dit oorweeg om ‘n troeteldier aan te neem.

“As ‘n persoon ‘n dier as ‘n rondloper hier aanbring, moet die dier sewe dae by ons gehou word voordat hulle beskikbaar gestel word vir aanneming. Sou die persoon die dier afteken, word hy dadelik vir aanneming beskikbaar. As hulle die diere wil terug hê, moet hulle deur die hele normale aanneemprosedure gaan.”

Desember was egter ‘n swaar maand vir die DBV. Uit die 51 katte wat ingebring is, is 26 die genadedood toegedien. Slegs ses is aangeneem, en 17 is aan natuurlike oorsake dood.

Volgens Pienaar kom die katjies uit allerhande onbekende omstandighede en baie is reeds siek.

Die DBV het in totaal 89 honde ingekry waarvan 28 genadedood toegedien is, 13 deur eienaars geëis is, 18 aannemings deur die publiek en drie is aan natuurlike oorsake dood. Daar is tans nog 27 honde in die hondehokke.

Die DBV het 44 hokke vir die honde en ses vir die katte beskikbaar.

Rondloperhonde wat saam in kom kan saam in ‘n hok geplaas word, maar ander honde moet geskei word omdat dit tot aggressie en gevegte kan lei. Klein katjies word saamgehou maar die geslagte word geskei. Wanneer dit te vol raak, moet genadedood toegedien word.

“Ons is letterlik altyd vol, nie net oor Desember nie,” sê Pienaar. Sy skryf die hoë syfers toe aan eienaars wat nie hul diere laat steriliseer nie, of nie kan bekostig om dit te doen nie. Baie mense kry wel vir hul honde en katte se kleintjies eienaars, maar waarborg nie dan dat daardie diere gesteriliseer word nie.

“Baie mense glo dat tefies en wyfiekatte een werpsel moet oplewer alvorens sy gesteriliseer word. Daar is geen gronde hiervoor nie,” sê Pienaar.

Volgens die DBV se statistieke kan ‘n wyfiekat deur werpsel na werpsel kleintjies ‘n astronomiese, eksponensiele 420 000 kleintjies oplewer in sewe jaar. Vir honde is die getal 67 000. Dit bewys die rede waarom meer as helfde van die katte wat by die DBV aangebring word nooit weer die DBV sal verlaat nie, en die genadedood toegedien word.

Met nuwe kompleks-reëls en regulasies, en die algehele huurkontrakte wat vandag vir mense gegee word, word al hoe minder diere toegelaat, en mense word vorseer om hul diere af te teken wanneer hulle verhuis, voeg Pienaar by.

Die DBV het ‘n projek begin waar hulle huislose katte vang en steriliseer. Die omvang van die probleem is egter so groot dat hulle nie kan voorbly nie.

‘n Plaaslike veëarts het die volgende kwotasies gegee vir hul geskatte prys op sterilisasies en kastrasies op honde en katte:

Wyfiekat – R1 200

Mannetjieskat – R750

Teef onder 20kg – R1 700

Teef bo 20kg – R1 900

Reun onder 20kg – R1 200

Reun bo 20kg – R1 400.

Inëntings is ook belangrik, om siektes en parasiete onder jou eie honde sowel as die verspreiding na ander diere in die omgewing te vermy. Al drie inspuitings, met die hondsdolheid inënting daarby beloop meer as R1 000.

Dus, al gee iemand ‘n hond of kat gratis, moet die eienaar besef daar is ander kostes in ag geneem moet word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button