Community galleriesGalleriesLocal newsNews

Beloofde kermis.

Nog 'n jaar is verby en inwoners van Rusoord Ouetehuis woel en werskaf lank reeds om gereed te maak vir hul jaarlikse kermis wat volgende week gehou word.

Dié kermis is al jare lank bekend vir sy lekkernye, vleis, witolifanttafel en prettige kompetisies.

Vanjaar skop die koop-en-kuiergeleentheid weer om 10:00 op Vrydag 29 September af met die gebruiklike optog van ou motors, trekkers of enige outydse voertuie. Nuwerwetse motors, motorfietse en enige ander ryding is ook welkom om in die optog wat deur Lydenburg se strate gaan ry.

Vrydagaand kan inwoners braaivleis met pap en sous kom geniet of dit as ‘n wegneemete bestel.

Sorg dat jy Saterdagoggend reeds om 07:00 jou draai by die kermis maak as jy die beste vleissnitte, gebak, groente, naaldwerk en ander eetgoed wil opraap, anders is dit dalk neusie verby. Dit verkoop gewoonlik soos soetkoek.

Teen slegs R10 kan jy aan talle kompetisies deelneem waarin hope pryse

op die spel is.

Wie weet, miskien is jy die man met die grootste maag? Soos wie lyk Wagter? Skryf hom in vir die hond wat die meeste na sy oubaas/ounooi lyk, of vir die mooiste, dierbaarste en besgeklede viervoetige?

Vir die kleingoed is daar aartappelresies, karaoke en stoeledans (musical chairs). Tieners kan inskryf vir ‘n kompetisie spesiaal vir hulle. En watter mamma dink nie haar baba is die mooiste, oulikste en pragtigste mensie nie. Skryf jou baba in en kyk wat sê die beoordelaars.

Kom pronk met jou oorspronklikste en omgewings-vriendelikste hoed, en wen ‘n prys.

Dit alles en nog vele meer wag op inwoners wat volgende Saterdag die kermis bywoon. Die pret en plesier sal tot 15:00 duur. Stalletjies is teen slegs R50 beskikbaar. Om aan die optog deel te neem of ‘n stalletjie te bespreek, skakel Jeanette Kruger by 013-235-2146 of 082-579-2962.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button