Wintermark sorg vir baie om te eet en geniet
Die reuk van boereworsrolletjies en pannekoek is genoeg om enigiemand blokke ver na die oorsprong daarvan te lok.

Die NG Kerk Burgersfort het onlangs hulle wintermark op die kerkterrein gehou.
Dit wou voorkom of pannekoek en koffie ideaal was vir hierdie mark namate die koue vinniger begin nadersluip het.

Kinders met geverfde gesiggies het die wêreld vol gehardloop, op die waterglybaan gespeel en aan boeresport deelgeneem. ‘n Talentkompetisie het veral groot aftrek by die wintermarkbesoekers gekry. Daar was van groepdanse, sang tot selfs ‘n klavieruitvoering.

Daar was natuurlik ook stalletjies met lipleklekker kos, om nie eens te praat van al die soetdingetjies wat monde laat water het nie. Die verskeidenheid van snuisterye-stalletjies het ook groot aftrek gekry. Die mark was weer eens ‘n gebeurtenis vir almal, oud en jonk om te geniet.



