IN FOTO’S: Reën plaas nie demper op Hoërskool Nelspruit-tuisbyeenkoms nie
'n Uitmuntende 21 rekords het op die dag gespat, en een atleet van Affies Seuns het 'n ongelooflike 1 000 ASA-punte verdien vir sy gewigstootitem.
Ten spyte van die weer se beste pogings kon niks Saterdag, 24 Januarie, ‘n demper op Hoërskool Nelspruit se tuisbyeenkoms plaas nie.
Dit was ‘n spesiale dag van skouspelatletiek met Hoërskool Rob Ferreira, Hoërskool Middelburg, Hoërskool Ermelo, Afrikaanse Hoër Seunskool en Afrikaanse Hoër Meisieskool wat weer eens na NHS teruggekeer het om deel te neem.
In die aanloop tot die byeenkoms was daar kommer dat dit uitgestel sou moes word weens die swaar reën wat vroeër die maand in die Laeveld uitgesak het.
NHS se suksesvolle aanbieding van hul interhuisbyeenkoms verlede Woensdag, 21 Januarie, was egter ‘n goeie teken, en die byeenkoms kon voortgaan met geringe aanpassings.

Die spiesgooi is na die skool se krieketveld verskuif, maar die res van die items kon soos normaal voortgaan.
Verskeie skole se voorbereiding was beperk weens die reën, maar elke atleet het op die dag 100% gegee.
Ná al die vrese oor nat velde was dit kookwarm toe die byeenkoms Saterdag plaasgevind het, en die atlete het vir strawwe kompetisie gesorg.
Die hoogste individuele ASA-puntetelling van die dag het gekom toe Affies Seuns-atleet Dewald Roodt in die o. 16-gewigstoot ‘n nuwe rekord van 19,34 m opgestel het om 1 000 punte te verdien.
Een van die groot besprekingspunte van die dag was Hoërskool Middelburg-atleet Thokozani Kachelanga se 1,9 m-sprong in die o. 14-seuns hoogspring.
Die hoogste individuele puntetellings onder die twee Laeveld-skole het aan Menzi Shiba en Zoë Cilliers, albei van NHS, behoort. Zoë het 891 punte ontvang vir haar rekordtyd van 24,86 sekondes in die o. 19-dogters 200 m, terwyl Menzi ook 891 punte verdien het met sy tyd van 54,29 sekondes in die o. 19-seuns 400 m-hekkies.
Altesaam 21 nuwe rekords is op die dag opgestel. Die 200 m-wedrenne was veral blitsig, met vier nuwe rekords wat aangeteken is.
Die individuele toekennings was soos volg:
• Junior victrix ludorum – veld: Carmia van Tonder (AHM)
• Junior victor ludorum – veld: Hano Grobler (MHS)
• Junior victrix ludorum – baan: Caylin van Vinkenroye (AHM)
• Junior victor ludorum – baan: Bonga Tau (MHS)
• Senior victrix ludorum – veld: Zané Nel (NHS)
• Senior victor ludorum – veld: Dewald Roodt (AHS)
• Senior victrix ludorum – baan: Christi Loggenberg (AHM)
• Senior victor ludorum – baan: Emil Els (AHS).
















































