Interhigh news

NHS-atlete gee Affies opdraande

Vanaf die eerste item tydens Hoërskool Nelspruit (NHS) se jaarlikse vriendskaplike atletiekbyeenkoms wat Saterdag plaasgevind het, was dit duidelik dat 'n tawwe stryd tussen Affies van Pretoria en die gasheer sou ontstaan.

Vanaf die eerste item tydens Hoërskool Nelspruit (NHS) se jaarlikse vriendskaplike atletiekbyeenkoms wat Saterdag plaasgevind het, was dit duidelik dat ‘n tawwe stryd tussen Affies van Pretoria en die gasheer sou ontstaan.

Ligbron (Ermelo), hoërskole Ben Vorster (Tzaneen), Ben Viljoen (Groblersdal), Barberton en Lowveld High School, het egter elk sy kwota uitblinkers opgelewer. Mbombela het die voorreg gehad om van die land se beste skole-atlete in aksie te sien.

Die 15-jarige Ruben Els van Affies, het ‘n sonderlinge driekuns behaal, toe hy in die afdeling vir seuns o/15, drie nuwe byeenkomsrekords verbeter het. In die 100 meter is hy na net 10:88 sekondes oor die wenstreep. Hy het sy 200 meter in 22:08 sekondes voltooi en 400 meter in net 51:39 sekondes. Spanmaat Yolandi Stander (dogters o/17) het haar reputasie gestand gedoen toe sy die gewigstoottitel met ‘n reusepoging van 15,76 meter ingepalm het.

Sy was ook in skyfwerp onstuitbaar en het met ‘n poging van 41,53 meter haar naaste teenstander met 17 meter getroef. Niaan Taljaard (Ben Vorster) het die gewigstoot (seuns o/15) met ‘n uitstekende 17,69 meter gewen, net-net voor Affies se Evan Roos, wat self met ‘n baie goeie afstand van 17,64 meter die skare laat regop sit het.

Te midde van uiters strawwe kompetisie, het die Nellie-atlete egter nie op hulle laat wag nie, en talle eerste plekke verower. Werner Bouwer, SA o/15-kampioen van 2013, het die 700-gramspies (seuns o/17) op ‘n pragafstand van 64,90 meter laat grondvat. Mede-Nellie Stephan van der Bank, verlede jaar se nasionale o/15-kampioen, het ook vir die eerste keer die swaarder spies verby die 60-metermerk gegooi toe hy 60,30 meter aangeteken het. In die o/15-afdeling het Stefan Smit ‘n puik gooi van 58,82 meter uit die sakkie gehaal.

Nerina Visser is nog in die oorskakelfase na die o/16-afdeling, maar het met ‘n uitstekende 69,58 sekondes in die 400-meterhekkies, getoon dat sy binnekort met nog beter tye vorendag kan kom.

Tertius Mentz (seuns o/15) het eweneens die baan aan die brand gehardloop, toe hy sy Affies-teenstanders in die 800 meter (2:07.51) en 1 500 meter (4:28.96) stukkend gehardloop het. Die naam Nicola Cronje gaan ook nog baie gehoor word.

Hierdie gr. 8-leerling het in die o/14-afdeling puik vertoon deur die 400 meter (63:14 sekondes) en 200 meter (28:66 sekondes) voor haar teenstanders weg te raap. NHS kan met trots terugkyk op ‘n byeenkoms wat sekerlik een van die bestes was wat die skool nog aangebied het.

Die organiseerders verdien ‘n pluimpie vir die feit dat agt skole vanuit drie provinsies by hierdie jaarlikse prestige byeenkoms betrek is – wat dan ook meegebring het dat tientalle spogprestasies deur die groot getal toeskouers geniet en waardeer kon word. Vir meer foto’s, volg hierdie skakel

Uitslae

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button