Interhigh news

Prag-atletiek vermaak skare

Dié gewilde middag/aandbyeenkoms was vanjaar weereens uiters suksesvol en 'n belewenis wat toeskouers nog lank sal onthou.

Die sewende Luneburg Prokureurs-vriendskaplike atletiekbyeenkoms het Vrydag Hoërskool Rob Ferreira behoorlik uit sy nate laat bars. Dié gewilde middag/aandbyeenkoms was vanjaar weereens uiters suksesvol en ‘n belewenis wat toeskouers nog lank sal onthou.

Komatipoort Akademie, Curro Nelspruit, Penryn, Uplands, Hoërskool Sybrand van Niekerk, Hoërskool Lydenburg en Hoërskool Merensky het teen die gasheer se A- en B-atletiekspanne meegeding. Massadeelname en aksie was in alle items aan die orde van die dag.

Talle rekords het op dié dag gespat. Jane Vorster het die huidige o/14-gewigstootrekord na 10,73 meter verbeter. Christelle Coetzer, dogters o/14 het in beide die 200- en 400-meter rekords verpletter.

Abdul Hussen het die o/17-hoogspring-rekord van 1,85 meter geëwenaar, en kon net-net nie die mas opkom nie. Remember Nomand het die seuns o/17-rekords van 04:27.80 met ‘n volle sewe sekondes verbeter. Na ‘n vlaag van ondersteuning vanuit die skare vir Tertius Kruger, kon hy die o/19-spiesgooirekord met 6,28 meter verbeter. Isak Beytell, seuns o/17 het die 110m hekkierekord met ‘n haarbreedte verbygesteek. Maudas Banda het weer Hoërskool Bergvlam se naam hooggehou toe hy die huidige verspringrekord van 6,23 meter na 6,84 meter verbeter het. Leslie Adam het ook beïndruk met die nuwe rekord van 11,11 sekondes in die 100-meter hekkies vir o/16’s.

Die toeskouers was tydens die spoedaflos-items op die punte van hul stoele. Die lewendige en energieke atmosfeer was duidelik tasbaar deurentyd en hoogs aansteeklik. Volgens die byeenkomsorganiseerder, Stefan van der Merwe, was dié opwinding van die beste wat hy in jare beleef het. Toe die son gaan sak was die atmosfeer elektries, maar dat die kompetisie al hoe strawwer begin raak soos dit begin afkoel het, was so duidelik soos daglig. Pawiljoene was stampvol, en volgens Van der Merwe blyk dit asof die gewildheid van atletiek weer vinnig besig is om in die Laeveld vlam te vat. Rob Ferreira bied eerskomende Saterdag die Hi-Tech Sekuriteit Witrivier vriendskaplike byeenkoms aan. Toeskouers kan uitsien om van die omgewing se beste skole in aksie te sien.

Die byeenkoms begin om 08:00 en toegang beloop R20 per voertuig. Almal word uitgenooi om die 11 skole te kom ondersteun. Kyk hier na meer foto’s

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button