’n Beskermengel en ma vir baie





Ma-wees kom in baie vorme: biologiese ma, aanneemma, peetma en ’n reeks ander rolle tussenin. Ané Grobbler val in drie van dié kategorieë. Sy is een van die stigters van Grace Baby Haven waar verlate, mishandelde en verwaarloosde babas ingeneem word vir ’n tydperk van ongeveer drie maande. Daarna word die babatjies in pleegsorg of aanneemhuise geplaas. Hiér is sy ’n ma van vergete klein wesies. Túis is sy ’n ma van haar 10-jarige dogtertjie, Jaimie, en baba Joshua, wat in die proses van aanneming in die Grobblergesin is.
“Ons behoefte vir ’n tweede kind en miskraam op miskraam het ons op die wonderlike pad gesit om in babas wat weggegooi word se lewens ’n verskil te maak. “Joshua het so mooi ingepas by ons familie, en ons het besef dat hy ’n geskenk van Bo is. Hy het my hart kom vul. “Ons dogtertjie is ’n juweel in my hart.
Sy wou nog altyd ’n boetie en ’n sussie en ’n baba gehad het.” Grobbler sê sy voel werklikwaar geëerd om “vir elke liewe lyfie wat in ons huis geplaas word” ’n mamma te mag wees. Alhoewel sy nog altyd ses kinders wou gehad het, voel dit of haar hart oorloop van liefde vir al 16 kinders wat tot dusver haar lewe kom verander het.
Sy sê hulle het ’n fantasiese ondersteuningsnetwerk van vrouens in Mbombela wat elke nou en dan hul werkslading verlig en help waar hulle kan. “Met hulle hulp is die werk wat ons doen moontlik, alhoewel dit nie altyd maklik is nie. “Hoe moederskap ook al na jou toe kom, dit is ’n wonderwerk. Kinders onthou die tyd en liefde en avonture saam, nie noodwendig net dit wat vir hulle gekoop word nie.”