Local newsNewsNewsSchools

Nellies kroon hul mooistes

Brylcreem, ducktail-hare, wye polkadot-rompe, melkskommels en inryteaters - Hoërskool Nelspruit is Dinsdagaand na die sestigerjare teruggeneem vir hul jaarlikse Mnr. en Mej. NHS-kompetisie.

NELSPRUIT – Brylcreem, ducktail-hare, wye polkadot-rompe, melkskommels en inryteaters – Hoërskool Nelspruit is Dinsdagaand na die sestigerjare teruggeneem vir hul jaarlikse Mnr. en Mej. NHS-kompetisie.

Met die intrapslag is toeskouers met die glimlaggende gesigte van vanjaar se finaliste begroet – almal graad tien en -elf leerders – opgeplak teen ‘n helder suurboog wat voor die skoolsaal opgerig was.

Bekende Afrikaanse onderwyseres, me. Retha Smit het die gaste welkom geheet en haar mede-seremoniemeester, Suid-Afrika se eerste Idols-wenner, Heinz Winckler voorgestel. Heinz het sy 11 jaar in die internasionale kollig ten toon gestel en al wat ‘n toeskouer was op hul voete gehad om saam met hom te sing – alles van sy treffers Bietjie, bietjie tot Ek kan weer in liefde glo. Na aanleiding van die manier wat hy sy gehoor betower het, kan daar sonder twyfel gesê word dat elke liedjie wat hy skryf en/of sing, as ‘n treffer beskou kan word.

Die glansgeleentheid se beoordelaars het oud-hoofseuns, modelskool-eienaars en selfs oud-onderwysers ingesluit.

Die aantreklike finaliste het die kompetisie afgeskop met ‘n rondte op die loopplank in informele drag deur Topshop in I’Langa Mall, waarna Heinz weer al wat ‘n vroulike toeskouer was met sy stem, kitaarspel en vermaaklike danspassies bekoor het.

Die Greasers, soos die finaliste bekendgestaan het, het gewys dat daar baie meer as net mooi gesiggies in hul steek deur op ‘n mengelmoes van treffers van die film Grease te dans. Wys net – moenie ‘n boek op sy baadjie takseer nie.

Alhoewel elkeen van die finaliste oorverdowende ondersteuning ontvang het, moes die beoordeelaars die moeilike taak aanpak om ‘n wenner te kroon.

Na ‘n finale tog by die loopplank af in aandrokke verskaf deur Christa Verwey van Crimanté Creations, en aandpakke deur Woolworths, was dit tyd om die wenners aan te kondig.

Christie Kruger en Shimon Roets is as mejuffrou- en meneer NHS aangekondig, met Phia du Toit en Georg Muller as eerste prinses en -prins, en Mieke van der Westhuizen en Brendan Nel as tweede prinses en tweede prins.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button