
NELSPRUIT – Dié jaar is matriek ‘n groter prioriteit as haar drama-loopbaan, sê Gisela Diedericks, die Hoërskool Bergvlam-leerling wat onlangs in die VSA aan ‘n internasionale talentkompetisie deelgeneem het.
Sy het vanaf 1 tot 6 Januarie aan die jaarlikse SHINE-konferensie in Orlando, Florida deelgeneem. Dit word twee-jaarliks georganiseer deur Acting, Modelling and Talent for Christ (AMTC), met wie die Suid-Afrikaanse Talent kampioenskappe (Satch) geaffilieer is.
Daar is verlede jaar berig dat Diedericks deur talentsoekers na SHINE genooi is nadat sy in Oktober in die drama-kategorie van Satch in Midrand deelgeneem het. Die organiseerders beskryf SHINE as ‘n lanseer-platform met kinders, tieners en volwasse akteurs, modelle, sangers, dansers en komediante van regoor die wêreld wat deelneem.
Buiten agente en bestuurders wat dit bywoon, word daar ook seminare aangebied. Diedericks het vertel dat sy juis een bygewoon het wat deur Chris Kaplan van Twentieth Century Fox aangebied is.
Diedericks, wat al aan dramaklasse deelneem sedert sy nege jaar oud is, was baie opgewonde oor alles wat sy beleef het. Sy het deelgeneem aan drama vertonings, monoloë, die lees van tonele en improvisasies.
“Op die laaste dag kry deelnemers die geleentheid om hulself aan agente voor te stel en agente kan hulle dan ook nader,” het sy vertel. “Hulle het vir my gesê hulle is op soek na iemand wat nie meer in die skool is nie, en my aksent kort ‘n bietjie werk want dit slaan soms deur.”
Dis te betwyfel of haar skoolmaats saam sal stem na haar vertoning in die skoolsaal verlede week, maar vir nou wil sy eers op haar laaste skooljaar fokus. “Ek wil oor twee jaar weer gaan,” het sy gesê. “Dit gee my tyd om eers skool klaar te maak en nog aan my aksent te skaaf.”