NELSPRUIT – Met ‘n bietjie hulp het sommige van Hoërskool Bergvlam se jongelinge dié jaar besluit om afknouery hok te slaan. Die Peace Buddies Projek is onlangs deur Megro Learning onder die skool se gr. 8-groep geloods.
“In ag genome die hoë getal misdade soos moord, geweld, verkragting en aanranding in Suid-Afrikaanse skole, het Megro Learning besluit om betrokke te raak en pro-aktief op te tree,” het me. Marilize Prinsloo, projekleier, gesê.
Die doelwit is om leerlinge teenoor medeskoliere wat boelie-gedrag toon of geboelie word, te bemagtig. Aanvanklik is 12 geïdentifiseer om aan die projek deel te neem, waarvan 10 die opleiding getrou bygewoon het. Die groepie het inligtingsessies bygewoon om die nodige vaardighede soos wat die tekens, kategorieë en redes van afknouery is, te leer.
“Hulle het almal baie goed by die projek ingeskakel en meld gereeld voorvalle aan waar hulp verleen kan word, of hulp verleen is,” het me. Chrizanne van Wyk, die skoolsielkundige, gesê. “Na die inligtingsessies kan Buddies dus gevalle identifiseer, rapporteer of tot ‘n mate self ingryp.”
Die projekbestuurders poog om die fokus dié kwartaal na die leerlinge te verskuif; diegene wat geboelie word, sowel as die wat boelie-gedrag toon. “Hulle kan hul portuurgroep ook van alternatiewe maniere om konflik te hanteer bewus maak en meer verdraagsaamheid en respek vir mekaar te toon,” het hulle gesê.
