Koster lig die Beeldtrofee omhoog
Die atmosfeer was vol afwagting vir die Beeldtrofee-finaal wat Saterdag uiteindelik aangebreek het- 'n groot dag vir Komatipoort en 'n eerste op hul tuisveld.
Die atmosfeer was vol afwagting vir die Beeldtrofee-finaal wat Saterdag uiteindelik aangebreek het- ‘n groot dag vir Komatipoort en ‘n eerste op hul tuisveld.
Agt skole het mekaar in hul onderskeie ouderdomsgroepe aangedurf. Kaptein Dirk de Bruyn het sy Komati-manne op die veld deur ‘n tonnel van ondersteuners gelei, gevorm deur leerders, ouers, en beheerraadslede. Twee Harley-Davidson-klubs van Nelspruit het die eerste span kom ondersteun deur ‘n erewag op die veld te vorm.
Die spelers was sigbaar aangedaan by die gedagte dat ‘n droom vir hulle waar geword het, maar ook met die wete vir sommiges dat dit hul laaste wedstryd by hul alma mater sou wees.
Dit was ‘n klipharde wedstryd met twee spanne wat alles in hul vermoë gedoen het om as kampioene die veld te verlaat. Die spanning het hoog geloop op beide die veld en die pawiljoen. Dit het soos ‘n Curriebeker-eindstryd gevoel. Die wedstryd het kop aan kop geloop en die telling was drie keer gelykop.
Teen rustyd was dit 10 elk met Juandré Kruger en Tiaan Nel wat elkeen ‘n drie vir Komati aangeteken het. Die twee verdoelskoppe is verbrou.
Rudolf Burger het vir Koster ‘n drie gedruk, Pieter Roux, het dit verdoel en ook ‘n strafskop deur die pale gestuur. Komati het vir Ian Ouwenkamp, hul vaskopstut aan ‘n ernstige besering in die eerste helfte afgestaan – een van hul sterk spelers.
In die tweede 40, het JJ van Rensburg en Jonathan Loubser van Komati elk ‘n drie aangeteken en Dirk de Bruyn het met een doel geslaag.
Komati het ongelukkig in die tweede helfte ‘n lynstaan afgestaan want die aanloop was vir nog ‘n drie vir Koster. Rudolf Burger en Neville Holmes het agter die pale gaan kuier en hul haker, Gideon Fourie het albei drieë verdoel. Die tuisspan het dapper en met alle mag en krag tot die einde geveg om nog punte aan te teken, maar helaas het Koster – ten spyte van ‘n geelkaart – met
24-22 geseëvier.
Die onderskeie skoolhoofde, afrigters en kapteine het waardering teenoor mekaar uitgespreek. Volgens die kaptein van Koster, het hul span nog nie so ‘n harde wedstryd beleef nie.
Hy het ook Akademie se span geloof vir hul dissipline en goeie gesindheid.
Komati Akademie bedank al die ouers en die gemeenskap vir hul ondersteuning.
Daar word in besonder erkenning aan die twee Harley-Davidson-klubs gegee: Steel Wings en Big Five Chapter van Nelspruit, ook aan hul lede van Hectorspruit, Malalane en Komatipoort, wat tydens elke tuiswedstryd die eerste span kom ondersteun het. Anton Atkinson, voormalige onderwyser, en vader van William, een van die spelers, het die tradisie so drie jaar gelede begin deur vyf plaaslike lede van die klub te nooi om die wedstryd, al brullende, met ‘n ronde om die veld in te lyf waarna die span dan opgehardloop het. Atkinson is self lid van Big Five.
Sedertdien het die deelnemers aan die optog gegroei tot sewentien.
Opponente moet definitief deur so ‘n skouspel en magsvertoon geïntimideerd voel. By die onlangse kwartfinaal, wat ook ‘n tuiswedstryd was, het die twee klubs, wat nie eers ouers is van die skool, geduldig saam met al die spelers en toeskouers gewag toe die skeidsregter twee ure laat was.
