Jong hokkiespan slaggereed vir finaal
Groot opgewondenheid het onlangs geheers toe Laerskool Lydenburg se o/12 hokkiespan deurgedring het na die finaal
Die opgewondenheid was feitlik tasbaar toe die seuns se o/12-hokkiespan van Laerskool Lydenburg die afgelope naweek die groot tog vir die Mpumalanga-uitspele Middelburg toe aangedurf het. Spanne het van oor die hele provinsie bymekaargekom en die veld het behoorlik van hokkiegeesdriftiges gewemel. Lydenburg het in die A-poel meegeding en kragte met Oranjegloed, Goedehoop, Kragbron en Middelburg gemeet.
Alhoewel hulle strawwe teenstanders was, het hulle nie vir ‘n oomblik teruggestaan nie en die eerste wedstryd teen Goedehoop met oorgawe aangepak. Volgens afrigter Ingrid de Wet, het was die tempo vinnig en Lydenburg het gedomineer, veral in die middelveld waar die skakels se vaardigheid met balbesit gesorg het dat daar pal in die opposisie se helfte gespeel is. Dit het die span in staat gestel om ‘n gemaklike wen te verseker.
“Die vreugde was groot en die span was sommer lus vir die volgende wedstryd,” vertel ‘n opgewonde De Wet. Lydenburg se volgende wedstryd was teen Oranjegloed. Ook daar het die span die hef in die hand gehad en die volgehoue, uitstekende spel deur die vier verdedigers het hul teenstanders se voorspelers lam gelê.
Die Lydenburgers was behoorlik oorgehaal na hul tweede agtereenvolgende wen, maar is in hul spore gestuit toe Kragbron teen hulle te staan gekom het. “Van die begin af het die opposisie
aggressiewe spel getoon en hul stokvaardighede was veel beter as Lydenburg s’n,” sê De Wet. Kragbron het die kragmeting met 3-0 gewen.
De Wet meen dat Lydenburg waarskynlik die wedstryd sal onthou vir die vele onderonsies op die veld en ook vir die feit dat hulle hard moes werk om hul humeure te beteuel. Volgens haar is daar nabetragting gehou en die Lydenburg-span het hul kragte en selfbeheersing vir hul volgende kragmeting herwin.
Die tyd het eindelik aangebreek en die span was oorgehaal om hul naam in ere te herstel vir die laaste wedstryd teen Laerskool Middelburg. Die seuns het mekaar luidkeels aangemoedig om alles te gee. Die wind het gesorg vir ‘n stowwerige veld en die droë gras het dit moeilik gemaak om die bal dop te hou, maar die seuns kon daarin slaag om na 40 senutergende minute die wendoel aan te teken. Die span het met hierdie prestasie daarin geslaag om na die finale uitspele deur te dring wat op 13 en 14 September in Witrivier plaasvind. Hul afrigter en die dorp hou duimvas vir hierdie sterk gemotiveerde spannetjie.
Die doelslaner van die dag was LJ Pretorius met vier doele en Ruben van der Merwe en Tiaan Britz met een elk. Die hardwerkende verdedigers was Fritz Koch, Quentin de Jonge, Rikus Booyens en Mariano de Villers, met Dean Pagani (o/11) as doelwagter.
Die ”links” was Duncan Troskie, Michael Grobler en Ruben van der Merwe en hulle is deur die onder 11’s, Zander Luies, Ben Coetzee en Byron Sneyders bygestaan. Die voorspelers was LJ Pretorius en Tiaan Britz.
