Unie-lede val glo petroljoggie aan
Volgens ooggetuies het van die mense hempde van die Nasionale Unie van Metaalwerkers in Suid-Afrika aangehad.
NELSPRUIT – ‘n Petroljoggie is Woensdag glo by die werk deur lede van die Nasionale Unie van Metaalwerkers in Suid-Afrika (Numsa) aangerand. Die voorval het laat die middag by die Beta Kilo-vulstasie in Kragbronstraat plaasgevind.
Volgens mnr. Nico Grobler, operasionele bestuurder van Hi-Tech Sekuriteit Nelspruit, het hulle 18:10 ‘n panieksein van die vulstasie ontvang, maar die vermeende skurke was met hul aankoms reeds weg.
“By ons aankoms het ons gehoor dat ‘n wit bus met Numsa-ondersteuners daar stilgehou het,” het Grobler gesê. “Hulle het gevra om diesel in te gooi.”
In die beeldmateriaal van die kringtelevisie kan duidelik gesien word hoe een van die petroljoggies die bus begin vul, waarna van die insittendes uitgeklim en hom aangerand het. Hy het weggehardloop. Nog mense het uitklim en die bus omsingel, vermoedelik met klippe gewapen.
Volgens Grobler was die joggies by die vulstasie aanvanklik te bang om hulle te help, omdat hulle Numsa-hemde aangehad het. Werkers wat deur dié Cosatu-geaffilieerde vakbond verteenwoordig word, het verlede Maandag vir hoër vergoeding begin staak. Baie wat nie aan die staking deelneem nie, het sedertien in gewone klere gaan werk.
Op die beeldmateriaal kan ook gesien word hoe een van die insittendes die bus verder opvul voordat hulle vertrek. Volgens Grobler het hulle ongeveer R1 800 se diesel gevat sonder om daarvoor te betaal.
Hy het gesê hulle vermoed dat dieselfde bus se insittendes Donderdagoggend by Nkomazi-vulstasie by Alkmaar nog petroljoggies aangerand het. Volgens hom is die polisie van die voorvalle bewus, maar kon hulle nie die bus se registrasienommer in die hande kry nie.
Grobler het gesê Hi-Tech het planne beraam om Beta Kilo 24 uur per dag te beveilig.
