Time Machine ‘n nostalgiese belewenis
Ek glo ek praat namens almal wanneer ek sê dat van die tonele en musiek ‘n mens so nostalgies gelaat het, dat daar maar swaar gesluk is aan die trane.

BARBERTON – Dit is die tyd van die jaar wat elke skool, klein en groot, hul jaarlikse konsert hou. Verlede week het die leerders van Laerskool Barberton ‘n musiekblyspel op die planke gebring wat die gehoor na hul asems laat snak het.
Boonop het dit sommer ‘n dubbele doel gedien, aangesien die skool vanjaar sy 110de bestaansjaar vier.
Die produksie genaamd Time Machine en uit vertellinge, musiek en dans bestaan en het die gehoor op ‘n reis deur die geskiedenis geneem.
Alles van die eerste mikrogolfoond, PacMan tot Walkmans, ET, Marilyn Monroe, Elvis Presley en Charlie Chaplin het ‘n draai op die verhoog kom maak. Selfs Miriam Makeba en Madiba was ook te sien en te hoor.
Ek glo ek praat namens almal wanneer ek sê dat van die tonele en musiek ‘n mens so nostalgies gelaat het, dat daar maar swaar gesluk is aan die trane.
Almal wat deel was van hierdie uitmuntende konsert moet gelukgewens word – dit was sowaar uit die boonste rakke en van uitstaande gehalte. Julle verdien sowaar ‘n Oscar vir hierdie puik produksie!
