BHS vier diamant herdenking
Vanaf die nederige beginjare, toe daar 220 leerlinge was, tot vandag wat daar 710 leerders en 45 onderwysers is, kan u verseker wees dat daar nie ‘n ander hoërskool in Umjindi is wat op akademiese en sportvlak met BHS kan meeding nie.

BARBERTON – Hoërskool Barberton (BHS) het ‘n ryke geskiedenis en die naweek het hulle hul 60ste bestaansjaar gevier. Wanneer mens deur die ou jaarblaaie lees, stel jy vas dat daar reeds in 1897 ‘n laer- en hoër staatskool in Crownstraat was, waar NTT Toyota vandag is.
Aangesien die perseel nie na wense was nie, veral wat sport betref, het die eerste hoof, J.L.K. Heystek en die skoolkommissie na ‘n beter terrein begin soek. Uiteindelik is daar besluit op die grond in Shebaweg waar die skool vandag nog is. In 1957 is daar met die bou van die koshuis begin en die jaar daarna is daar in alle erns met die bou van die hoërskool begin. In 1959 het die eerste leerders en onderwysers hul intrek in die nuwe koshuis geneem en kort voor die Kersseisoen, op 1 Desember, was die gebou ook voltooi en in April 1960 in gebruik geneem.
Hierdie was ‘n groot gebeurtenis in Barberton se geskiedenis en daar is onmiddellik met die ontwikkeling van die sportfasiliteite begin. Ouers en besighede het met entoesiasme ingespring en saamgewerk om hierdie nuwe trots van die dorp, die plek waar elke kind in Barberton se toekoms sou lê, so vinnig as moontlik in ‘n volwaardige instansie te omskep.
Die tweede hoof van die hoërskool, C. Hattingh, het op 1 Februarie 1961 die leisels by Heystek oorgeneem.
Die jaarblaaie getuig van ‘n trots rondom die skool en die foto’s van die leerders en onderwysers veroorsaak ‘n gevoel van nostalgie, maar terselfdertyd kan mens nie help om vir die haarstyle, klere en die erns op sommige van die gesigte te lag nie.
Daar is foto’s van bekende geboue en plekke, soos die Phoenix Hotel, en baie van die adverteerders in die jaarblad is van maatskappye wat vandag nog bestaan.
In die jaarblad van 1983 is daar dan ook die bekende, alhoewel baie jonger gesigte van onderwysers wat vandag nog daar betrokke is, soos mnre. Engelbrecht en Botha.
Vandag beskik die skool oor fasiliteite wat die leerlinge nodig het om hul vir die toekoms te bekwaam.
Vanaf die nederige beginjare, toe daar 220 leerlinge was, tot vandag wat daar 710 leerders en 45 onderwysers is, kan u verseker wees dat daar nie ‘n ander hoërskool in Umjindi is wat op akademiese en sportvlak met BHS kan meeding nie.
Barberton Times wens julle alle voorspoed toe vir die volgende 60 jaar. Mag die skool van krag tot krag gaan.

