Geen krag vir blankes
Rassisme en diskriminasie maak blykbaar deel uit van afsnylyste by die Thaba Chweu Munisipaliteit

GEEN KRAG VIR BLANKES
LYDENBURG – As jy in die sentrale deel van die dorp bly en ‘n agterstallige elektrisiteitsrekening het is jou doppie geklink wanneer dit kom by afsnytyd.
Die teendeel blyk egter waar te te wees as jy in een van die voorheen-agtergeblewe gemeenskappe soos Mashishing, Skhila en Stasie bly, aangesien rassisme en diskriminasie blykbaar deel uitmaak van afsnylyste by Thaba Chweu Munisipaliteit.
‘n Betroubare bron het verklap dat die diensverskaffer vir elektrisiteitsopskorting, Full Output, glo onlangs opdrag gegee is dat dié maatskappy glad nie afsnywerk in die areas mag doen nie, ongeag of diegene se name op die afsnylys verskyn.
Terwyl die reeds-bankrot munisipaliteit juis sukkel om Eskom se rekening van R150 miljoen te betaal word ‘n rassekaart glo gespeel om te verhinder dat hoofsaaklik swart gebiede se elektrisiteitstoevoer gestaak word, ten spyte van wanbetaling.
Die Lid van die Uitvoerende Raad (LUR) vir Finansies, Makosozana Masilela, het glo dié opdrag aan die diensteverskaffer gegee.
Wat veral kommerwekkend is, is die feit dat dié opdrag gegee word terwyl die munisipaliteit nasionaal aandag trek as gevolg van swak dienslewering, korrupsie en skuldlas.
“Daar is nie plek vir sulke blatante diskriminasie in TCM nie. Dit is onaanvaarbaar en hoort nie in die demokratiese era nie,” verduidelik ‘n bron na aan die munisipaliteit.
Volgens DA raadslid, mnr. Farhad Esssack, is die aangeleentheid ook onder sy aandag gebring. “Daar was aan Full Output ‘n afnsylys gegee vir die hele Mashishing/Lydenburg area waar ongeveer 950 huishouding en besighede op die lys verskyn. Met verdere ondersoek was ek geskok om te ontdek dat die diensverskaffer deur Masilela ingelig was dat elektrisiteitstoevoer onder geen omstandighede in voorheen agtergeblewe areas gestaak mag word nie. Dit sluit glo die gebiede Mashishing, Skhila, Simile in Sabie en Harmony Hill in Graskop in.”
Essack het klem op die feit gelê dat die diskriminerende praktyke deel vorm van ‘n verkiesings omplot van die ANC om goeie aftrek te kry by hulle tradisionele ondersteuners en om konflik te vermy.
“Dit is geen wonder dat die administrasie van die munisipaliteit steeds gebuk gaan onder die vaandel van korrupsie sonder om dienste te kan verskaf aan die einste inwoners aan wie die munisipaliteit behoort nie.”
Nie net is dit kommerwekkend dat daar blatant gediskrimineer word deur sekere gebiede uit te skakel nie, maar dit wil voorkom of die hele inkomstedepartment nie optimaal funksioneer nie. Kennisgewings rakende die staking van toevoer is hierdie maand op 19 September aan inwoners uitgestuur, maar op die kennisgewing word aangedui dat die rekening voor of op 9 September vereffen moes wees. Die kennisgewing is ook nie deur die munisipale bestuurder onderteken nie en geen naam word daarop aangedui nie. Dit is in teenstelling met munisipale wetgewing en is dus ongeldig.
Steelburger/Lydenburg Nuus het verskeie navrae aan die munisipaliteit gerig rakende die beweerde diskriminasie. Teen druktyd het die munisipale bestuurder, mnr. Surprise Maebela nie op die aantygings gereageer nie.
