NewsSchools

Bergvlam stel nuwe hoof aan

Na amper 'n jaar is me. Annemarie Kleynhans amptelik as Hoërskool Bergvlam se skoolhoof aangestel.

NELSPRUIT – Na amper ‘n volle jaar, het Hoërskool Bergvlam weer ‘n skoolhoof. Me. Annemarie Kleynhans is verlede week amptelik aangestel.

Sy is reeds vir agt jaar aan die skool eers as Afrikaanse onderwyser, toe departementshoof en later adjunkhoof verbonde, voor sy aan die begin van die jaar as waarnemende hoof oorgeneem het. Die aanstelling is op 1 Oktober bekragtig.

“Skoolgee is na aan my hart en ek mis dit om voor ‘n klas te staan,” het sy gesê. “Maar ek is nou op ‘n ander manier by die kinders betrokke.”

Kleynhans het gesê hoewel dit soms sleg is wanneer dit voel asof ‘n mens net die moeilikheidmakers hanteer, het sy aangehou met die tradisie om vir elke leerling met hul verjaarsdae ‘n sjokolade te gee. Gelukkig is sy baie goed daarmee om gesigte en name te onthou.

Die ingenieurs-grafika en ontwerp-onderwyser, mnr. Jacques Krüger, is dieselfde dag ook na adjunkhoof bevorder. Hy sal steeds klas gee, maar met minder periodes per week.

“Nou sal ek die kans kry om vir die leerlinge ander geleenthede te skep,” het hy vertel. Krüger meen die skool staan op die drumpel van groot sukses, en glo dat dit in tradisies gesetel is.

“Dit is ‘n unieke skool vir unieke kinders,” het hy gesê. Bergvlam het ‘n goeie jaar beleef. Die leerlinge het die geesbeker by die interhoër gewen en is as die “coolest school” aangewys. Daar is heelwat nuwe planne vir volgende jaar, soos om die geboue en sportvelde na oud-hoofde te vernoem. Hulle sal ook die interhoër aanbied.

Krüger glo ook daarin om kinders se selfdissipline te bevorder, en hy wil graag hê dat die skool, wat bekend is vir sterk akademiese prestasies, so voortdoen.

Ondanks die feit dat die bestuurspan klein is, kyk hulle vorentoe. “Ons is nou al so heg saamgebind dat ons ‘n formidabele span is. Alles is in plek en verloop glad.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button