Groot makietie by BHS
Die aand se verrigtinge het afgeskop met die wedstryd tussen Suid-Afrika en die Wallabies wat op die grootskerm vir belangstellendes vertoon is, terwyl verskeie personeellede besig was om die skape op die spit voor te berei.

BARBERTON – Hoërskool Barberton het op 28 September sy 60ste bestaansjaar gevier en dit was omtrent ‘n feestelike gebeurtenis. Mense van regoor die land, selfs sover as die Kaap, het opgedaag om dit saam met ander oud-leerlinge en -onderwysers deur te bring.
Vroegoggend was dit koud en mistroostig, maar dit het nie die gees gedemp nie, en later toe die son tog wel deur die wolke breek, was die verrigtinge al goed op dreef.
‘n Gedeelte van die skoolterrein is deur die Off-road Rescue Unit van Nelspruit in ‘n 4×4-hindernisbaan omskep en die manne het dit terdeë geniet. Vir die minder waaghalsiges was daar ‘n verskeidenheid stalletjies en ander motoruitstallings, en die kinders het hulle gate uit op die waterglybane en springkastele geniet.
Die dag het in ‘n behoorlike kuier om tafels onder sambrele met ou vriende, kenisse en oud-onderwysers ontaard.
Een van die hoogtepunte was ongetwyfeld die rugbywedstryd tussen BHS Old Boys en Barberton Rugbyklub, terwyl die Steval Puma Angels die toeskouers in die regte luim gekry het.
Die skeidsregter, Sarel du Toit, het voorwaar sy hande volgehad, nie net met die spelers nie, maar ook met die verskeidenheid kaarte in sy sak. ‘n Rooi, geel, groen en pienk kaart was tot sy beskikking om die spelers na hartelus op hul plekke te sit. Twee pouses in deur die organiseerders ingewerk om die ouer manne darem ordentlik tyd te gee om hul asems terug te kry, maar gelukkig was die nooddienste byderhand indien iets sou skeef loop.
Die Old Boys was oortuig daarvan die skeidsregter van Franse afkoms is, veral omdat Barberton Rugbyklub die gesogte wisseltrofee asook die 1953-tjek van 10 pond ingepalm het. Speler van die wedstryd was Dries Janse van Vuuren van die Old Boys-span en hy het heel gepas weggestap met ‘n oorlewingspakkie opgemaak deur Nico Botha.
Die aand se verrigtinge het afgeskop met die wedstryd tussen Suid-Afrika en die Wallabies wat op die grootskerm vir belangstellendes vertoon is, terwyl verskeie personeellede besig was om die skape op die spit voor te berei.
Dieter Uken het dié aand seker gemaak dat die dansbaan – onder die sterre – nie vir ‘n oomblik leeg was nie. Almal het heerlik geëet, gekuier, gesels, gedans, gelag en onthou. Na die veiling van verskillende bottels wyn en gedenkwaardighede het die vriende tot laatnag makietie gehou.
Bemarker van die skool, Francina du Plessis sê, “BHS wil graag die hoofborg van die geleentheid, Mpumalanga Copiers, asook alle ander bedank. So ‘n groot funksie is slegs suksesvol as die gemeenskap en besighede betrokke is. Aan die hoof, personeel, beheerliggaam, ouers, leerders en belangstellendes wil ons ook baie dankie sê vir julle harde werk, betrokkenheid en ondersteuning. Met so ‘n groep toegewyde mense beplan ons sommer nou al ons 61ste verjaarsdag.”
