Hare waai en vuiste swaai by bekende kuierplek
Drie mense wat al voorheen in die nuus was omdat hulle na bewering graag die vuiste swaai, word weer geïmpliseer
NELSPRUIT – Die hare het gewaai en die naels was uit by Stables verlede Donderdagoggend toe ‘n groep klante mekaar getakel het. Drie mense wat al voorheen in die nuus was omdat hulle na bewering graag die vuiste swaai, word weer geïmpliseer.
Hulle is mnr. Victor Wilkens (30), mnr. Wickus Potgieter en me. Carmen Brown (31). Die hele onsmaaklikheid het omstreeks 02:00 buite die kuierplek ontvou en is op kringtelevisie-kameras vasgevang.
Me. Yolande Redelinghuys was saam met ‘n vriendin daar. Volgens ooggetuies, wat liefs anoniem wil bly omdat hulle bang is hulle word ook geteiken, ken Redelinghuys vir Wilkens en Brown. Wilkens het haar kom groet en Redelinghuys het glo gevra of hy en Brown in ‘n verhouding is.
Wilkens het toe geantwoord dat hulle net saambly, waarop Redelinghuys glo geantwoord het dat hy ‘n ordentlike meisie sal kry as hy sy leefstyl verander. Daar is foto’s van Wilkens en Brown saam op beide se Facebook-profiele.
Een van die ooggetuies wat self binne Stables gekuier het, is ingelig dat daar ‘n groot geveg buite uitgebreek het en het hom soontoe gehaas. Dié onderonsie, wat soos dié in die Wilde Weste beskryf is, het in ‘n oor-en-weer geslanery ontaard. Redelinghuys is glo so hard gestamp dat sy geval het en is toe geskop en geslaan. Haar vriendin (wie se naam ook aan Laevelder bekend is) is weggeruk en sy het toe in Stables ingehardloop omdat sy bang was sy word ook geslaan. Nog mense, waaronder Potgieter, het tot die geveg toegetree en hy het haar glo met die kop geslaan. Potgieter se aandeel is glo baie duidelik op die beeldmateriaal te sien.
Die Mac’s Motorfietsklub se naam het telkens tydens Laevelder se navraag opgeduik. Dit is bekend dat Mac’s geen steen onaangeraak sal laat om sy lede te beskerm nie en Potgieter is glo ‘n lid van dié groep.
Brown se aandeel is dat sy Redelinghuys na bewering in die gesig geslaan het. Redelinghuys het verskeie beserings opgedoen waaronder ‘n gebreekte hand. Sy het Woensdag die voorval by die polisie aangemeld.
Mnr. Desmond Bowman, eienaar van Stables, wou nie die beeldmateriaal aan Laevelder beskikbaar stel nie. Hy het wel gesê dat hulle hul eie ondersoek na die voorval geloods het en dat die betrokkenes reeds verban is. “Dit het buite die klub gebeur en ons het dan ongelukkig nie beheer daaroor nie. Die oomblik toe ons daarvan gehoor het, het ons ingetree. Ons keur glad nie sulke gedrag goed nie en gee ons volle samewerking aan die polisie in hulle ondersoek,” het hy gesê.
Wilkens, Potgieter en Brown het al voorheen met die gereg gebots. Wilkens was in Maart in die nuus omdat hy aangekla is van aanranding op sy voormalige meisie. Laevelder het destyds foto’s van die meisie se beserings gesien.
Haar oordrom het onder andere gebars en vier van haar ribbes is gekraak. Sy en Wilkens het buite die hof geskik en die saak teen hom is teruggetrek. Brown word saam met mnr. Cat Smit van poging tot moord aangekla nadat Smit mnr. Johan (Panner) Cronje in Julie by ‘n vulstasie aangerand het. Hy moes ‘n maand in Mediclinic Nelspruit se intensiewesorgeenheid deurbring voordat hy ontslaan is.
Daar kan duidelik op kringtelevisie-beeldmateriaal gesien word hoe Smit vir Cronje herhaaldelik skop en slaan. Hulle moet weer op 23 Oktober in die hof verskyn in verband met hierdie saak. Potgieter is onder andere in 2008 aangekla nadat hy mnr. Ivor de Beer na bewering aangerand het.
Teen druktyd gister is niemand nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
