Gevlekte ooruil-kuiken gered
Die voël het niks gebreek nie, maar is nog nie groot genoeg om na homself om te sien nie
NELSPRUIT – Veeartse in die Laeveld werk met diere waarvan hul kollegas in stede maar net kan droom. Só het daar hierdie week weer ‘n gevlekte ooruilkuiken by West Acres Dierehospitaal beland, nadat dit uit ‘n nes geval het.
‘n Inwoner van West Acres het Dinsdag die voël in haar tuin gewaar, nadat dit uit ‘n baie hoë boom geval het. Sy het besluit om dit eerder na die veearts te neem omdat sy drie katte het wat hom dalk sou verorber.
Dr. Johann Viljoen het toe die kuiken van sowat twee maande oud, behandel. “Hy was effe ontwater en ons het hom kropvoeding met suikerwater gegee,” het Viljoen vertel.
Die voël het niks gebreek nie, maar is nog nie groot genoeg om na homself om te sien nie. Me. Petronel Nieuwoudt van Care for Wild Africa het hom kom haal en hy word nou by haar grootgemaak.
“Dit gaan baie goed met hom. Hy blaas verwoed as ons naby kom en eet goed. Menslike kontak was min, so hy sal definitief weer in die natuur vrygelaat kan word,” het sy gesê. Viljoen het genoem dat hulle hierdie week ook ‘n olyf-lyster en twee tiptolle gekry het om te behandel.
