Motorfietsryer in hospitaal na ongeluk
Die motorfietsryer het Saterdag sy pelvis gekraak toe hy in 'n ongeluk met 'n Toyota Fortuner betrokke was.
NELSPRUIT – 'n Motorfietsryer het Saterdag sy pelvis gekraak toe hy in 'n ongeluk met 'n Toyota Fortuner betrokke was. Volgens me. Robyn Baard, woordvoerder vir Mediclinic Nelspruit, is mnr. Louis Weilbach (26) in 'n stabiele toestand.
Die Fortuner het Weilbach se Suzuki GXR 750 van agter getref en 'n saamgesleep voor dit tot stilstand gekom het. Verdere inligting wat deur ooggetuies oor die detail wat tot die voorval aanleiding gegee het, verskil.
Volgens die bestuurder van die Fortuner wat hom as mnr. Morris Mashego voorgestel het, het hy by die sirkel op die Lydenburg-pad twee motorfietsryers teëgekom. Mashego en die motorfietse was almal op pad in die rigting van Mbombela Stadion. Volgens hom was die fietse agter hom toe hy een van die liggies met die regteragterkant van sy voertuig getref het. Dié merk was duidelik op sy voertuig sigbaar. Mashego het volgens hom met handgebare gewys dit was per ongeluk en verskoning gevra.
Weilbach het Mashego verbygesteek en volgens hom voor hom ingeswaai. “Hy was te naby vir my om te rem voor ek hom getref het,” het hy gesê. Die motorfiets is sowat 15 meter deur die Fortuner gestoot. Hulle het nagenoeg bo-op die brug wat oor die N4 loop, tot stilstand gekom.
Volgens Weilbach het die Fortuner hom op die sirkel aan sy regterkant getref met die agterkant van die voertuig. Volgens Weilbach het hy langs die Fortuner begin ry en na die bestuurder beduie asof om te vra wat die stamp was. Hy voer aan dat die bestuurder al hoe nader aan hom gery het en hom 'n tweede keer gestamp het, dié keer met die regtersy van die kar. “Hy het ook heeltyd na my toe gewys, asof hy wou sê ek was verkeerd.”
Weilbach het vertel hy het toe vooruit gery om in die geelstreep af te trek om moontlike skade aan sy fiets te ondersoek. “Ek moes spoed verminder om af te trek maar hy het genoeg plek gehad om te stop.”
Weilbach het gesê dit het alles baie vinnig gebeur en hy het vooroor gerol toe die voertuig hom tref. Hy het ook bevestig dat hy en mnr. Hentie Scholtz (25), sy neef wat saam met hom op 'n ander fiets gery het, vroeër by die Blou Marlyn-kroeg gekuier het en dat Weilbach alkohol gedrink het, maar dat hy heeltemal bevoeg was om te bestuur.
Scholtz drink glad nie, maar het vir sy neef se drankies betaal en dit het volgens hom nie eens R50 gekos nie. Volgens Weilbach het hy drie drankies gedrink, maar sy bloed is by die hospitaal getoets en volgens hom was nie oor die limiet nie. Teen druktyd kon die polisie nog nie bevestig of klagtes teen Mashego ondersoek word nie.
