NELSPRUIT – Hoërskool Nelspruit se leerlinge bak blykbaar die beste koek. 'n Vierlid-span van dié skool het Saterdag geseëvier toe hulle die eerste plek in Crossing SUPERSPAR se skole “bake-off” behaal het.
Voor die kompetisie, wat by Curro aangebied is, het elke span R5 000 in SPAR-geskenkbewyse ontvang, waarmee hulle bestanddele kon aankoop. Elke span is ook met baktoerusting toegerus en kon Saterdag van 07:00 tot 12:00 hul koeke bak en versier.
Die tema was die Laeveld. Volgens die beoordeelaars is elke koek beoordeel op hoe die tema interpreteer is om die hele Laeveld uit te beeld. Die beoordelaarspan het bestaan uit Barbara Tilly en Carolina van der Walt, wie albei bekend is vir die trou- en verjaarsdagkoeke wat hulle bak. Die derde een was Wikus Myburg, bakery-spesialis by SPAR se verspreidingsentrum.
Volgens hulle het smaak ook baie punte getel. “Jy kan ‘n koek hoe mooi versier, maar as hy nie lekker proe nie…” het Tilly verduidelik. Buiten die uitbeelding van die tema, het die netheid van die versierings ook baie punte getel. Myburg was beïndruk met die vlak van die skoolkinders se versieringstegniek. “Hul netheid vir hul vlak van ondervinding was baie goed,” het hy gesê.
Van der Walt het bygevoeg dat die spangees onder die deelnemers baie getel het. Hoërskool Nelspruit het uiteindelik die kompetisie gewen en sodoende vir elke spanlid ‘n Apple iPad sowel as R20 000 vir hul skool gewen. Hulle het Ou Joe sowel as die sitrusboorde op die Schoemanskloof-pad uitgebeeld. “Ons het uit die boks uit gedink,” het Megan Wille, Sunel Beyleveld, Erné van Coller en Liesa van Huyssteen verduidelik.
Hoërskool Bergvlam se span was tweede en het R7 000 in SPAR-geskenkbewyse gewen. Marina Janse van Rensburg, Ané van Wyk, Keri-Lynne Culver en Bronwyn Herron het met hul drielaagkoek baie aandag getrek. Op die koek se boonste vlak was ‘n boom in pienk toegedraai, na die Pienk Bome vir Pauline-inisiatief sowel as ‘n suiker-renoster. Die res het die son en die Nasionale Krugerwildtuin (NKW) uitgebeeld. “Ons het aspekte van die Laeveld wat vir ons belangrik is, uitgebeeld,” het hulle vertel.
In die derde plek was Penryn College. Die skool het R3 000 in geskenkbewyse van Crossing SUPERSPAR gewen met hul goed-deurdagte ontwerp. Die boonste vlak was met sebrastrepe en suiker-kameelperdkoppe versier om Mbombela Stadion uit te beeld. Boonop het hulle die koek van vanilla en kakao-deeg gebak om ook soos sebrastrepe te lyk. “Ons wou nie by die cliché van die NKW bly nie,” het hulle verduidelik, en die res van die koek eerder met Laeveldse blomme versier. Die onderste laag was geel en oranje om die sonopkoms uit te beeld, aangesien Mpumalanga “die plek waar die son opkom” beteken.
Die ander skole wat deelgeneem het was Curro self, Lowveld High School en Valencia High School. “Volgens die versiering het die skole mekaar opdraand gege,” het Myburg gesê, “maar volgens smaak het die eerste twee beslis uitgestaan.”
