VF+ oorweeg kriminele stappe teen TCM
‘n Advokaatsbrief is dus onlangs gerig aan die openbare beskermer, adv. Thuli Madonsela waar die VF+ meen dat ernstige wanadministrasie en finansiële tekortkominge in Thaba Chweu Munisipaliteit plaasvind
LYDENBURG – Die VF+ ondersoek die moontlikheid om ‘n kriminele klag van rassediskreminasie teen die stadsraad van Thaba Chweu te lê.
Dit volg na die koerant onlangs berig gelewer het oor sekere gebiede wat van elektrisiteitsafsnyding kwytgeskel moes word.
VF+ leier, mnr. Frik Rousseau, sê dat in die nuwe Suid-Afrika almal gelyk behandel moet word en volgens die grondwet mag daar nie teen ras, geloof en geslag gediskrimineer word nie.
‘n Advokaatsbrief is dus onlangs gerig aan die openbare beskermer, adv. Thuli Madonsela waar die VF+ meen dat ernstige wanadministrasie en finansiële tekortkominge in Thaba Chweu Munisipaliteit plaasvind.
Adv. Anton Alberts, lid van die parlement se VF+ party, het dié skrywe gerig en gevra dat ‘n ondersoek ingestel word na alle ongeruimdhede, finansieel en andersins, van die stadsraad. “Ons versoek ook dat regstellende aksies, of die tekort daaraan, op provinsiale vlak ondersoek word. Meer spesifiek is ons van mening dat dié munisipaliteit onder administrasie geplaas moet word, alhoewel die provinsiale regering besluit het om ‘n taakspan na TCM te ontplooi.”
Die brief lê ook klem op die feit dat die ingryping onwettig is na aanleiding van die Munisipale Finansiele Bestuurswet (MFMA), Gedeelte 139 wat beklemtoon dat ‘n Lid van die Uitvoerende Raad (LUR) tydens finansiële krisisse moet ingryp.
“Spesifiek met verwysing na die stadsraad se uitstaande Eskomrekening waar dié diensteverskaffer gedreig het om die krag van die hele munisipale area af te sny. Die munisipaliteit skuld ook nog ‘n ander diensteverskaffer, Eco Mare Consortium vir die instandhouding van munisipale asgate in Graskop, Lydenburg en Sabie.”
Die skrywe wys ook op die feit dat TCM in die laaste sewe jaar drie keer onder administrasie geplaas is as gevolg van korrupsie, wanadministrasie en korrupsie.
“Dit dui op konstante onbevoegdheid van die munisipaliteit om finansieel die mas op te kom. Daarom vra ons dus dat ‘n ondersoek gelas word om te bevestig of die LUR die munisipaliteit onder administrasie moet plaas in terme van Gedeelte 139 van die MFM.”
Volgens Rousseau is hy en die VF+ provinsiale leier, mnr. Werner Weber daagliks oor dié aangeleentheid in telefoniese gesprek.
