Interhigh newsNewsSchools

Vlammies vereer top-leerlinge

Hoërskool Bergvlam se leerlinge is verlede week tydens 'n meriete-aand vir hul uitsonderlike prestasies op verskeie gebiede vereer.

NELSPRUIT – Hoërskool Bergvlam het verlede week hul toppresteerders tydens ‘n meriete-aand aangewys. Die hoogtepunt was beslis toe die nuwe hoofleiers vir volgende jaar aangekondig is. Jonathan Dye en Alicia Smit is die nuwe presidente van die verteenwoordigende leerlingraad en Justin Phillips en Kerabo Kekana is aangewys as die adjunkpresidente.

Die Hoof se Toekenning, wat gemaak word aan ‘n gr. 12-leerling wat deur haar optrede, betrokkenheid, deelname en uitsonderlike voorbeeld uitgestyg het, is deur Bernadette Jacobs gewen.

Sy het vanaf gr. 8 ‘n gemiddeld bo 80 per sent in haar skoolwerk gehandhaaf. Sy was die afgelope vier jaar die dux-leerling van haar graad en spog met ‘n gemiddeld van 87,3%. Sy het Mpumalanga in die Nasionale Minquiz-kompetisie verteenwoordig en onder die top-10 in die ATKV se Afrikaanse Oimpiade in Mpumalanga geëindig.

Op sportgebied het sy vanaf gr.8 af in die hokkie A-span van haar ouderdomsgroep gespeel . Sy het die afgelope twee jaar eerstespanhokkie gespeel en is 2009 in die Ehlanzeni-span opgeneem en het ook as skeidsregter gekwalifiseer.

Bernadette speel ook reeds vir vyf jaar in die dogterkrieketspan en is ook die afgelope vier jaar telkens vir die Ehlanzeni-span gekies. Sy was vanjaar die skoolspan se kaptein. en is ook reeds die afgelope twee jaar deel van die Interhoërspan vir diskus.

Sy is ook al vir drie jaar lid van die verteenwoordigende leerlingraad en was vanjaar die akademiese komiteevoorsitter. Bernadette het ook aan The Sound of Music-blyspel in 2012 deelgeneem. By die Laeveld Eisteddfod het sy menige A++, A+ en A-sertifikate vir klavierspel en poësie-voordrag ontvang en het in gr. 6 haar Unisa-eksamen in klavier en musiekteorie tot en met gr. 5 geslaag.

Die Vlam van Bergvlam-toekenning word aan ‘n gr. 12-leerling wat in sport, kultuur, akedemie en leierskap uitblink en Kristen Hutton het hierdie jaar die toekenning ontvang.

Sy speel vir reeds vir twee jaar hokkie en is ook netbalkaptein vir die afgelope twee jaar. Kristen is ten alle tye ‘n pligsgetroue leerling. Sy is al vir vyf jaar ‘n lid van die leerlingraad en was die SE-president in 2013 waar sy ‘n rolmodel en motiveerder vir haar span was.

As voorsitter van die English Speaker-kompetisie het sy haar take met grasie uitgevoer. Sy is ook ‘n bekwame openbare spreker waarvan haar talle toesprake en optredes in hoofrolle in die skool se revues getuig. Verder is sy as die beste rassieleier by die interhuis- en interhoër byeenkomste aangewys. Sy het ‘n A+ hierdie jaar in die eisteddfod gekry en verlede jaar erekleure vir kultuur ontvang.

Hanno Bijzet, ‘n gr. 11-leerling as die sportman van die jaar aangewys aangesien hy algeheel tweede in die SA gimnastiek-kampioenskappe in Pretoria geëindig het. Dié artistiese vlak-7 gimnas het ‘n goue medalje op die vloer en ‘n silwer op ringe, spronge, beulperd, brug en rekstok ontvang. Hy het in Augustus by die Mpumalanga-kampioenskappe ‘n algehele goue medalje verwerf, waarna hy gekwalifiseer het om aan die nasionale kampioenskappe deel te neem.

Marisa Golding, ‘n gr. 12-leerling is die sportvrou van 2013. Sy het haar SA skoleskiet-kleure (goud) vir die hoogste individuele telling in die nasionale kampioenskappe verwerf. Sy is die nommer-een skut in die posliga teen Amerika en het hiermee ook Suid-Afrikaanse Nasionale Skoolskieter-vereniging (SANSSU)-kleure verdien.

Sy was ook die o/21-wenner het‘n voltal in die lê-posisie geskiet. Verder het sy goue medaljes vir die hoogste telling vir 3P, die hoogste telling in Olimpies, en die hoogste totale telling verwerf. Sy was die Mpumalanga o/21A-spanwenner (goue medalje) en tweede in die Mpumalanga o/21 A-span en o/16B-span gesamentlik (silwermedalje). Marisa het ook algeheel tweede in die land tydens die finale uitskiet tussen die agt topskuts geëindig.

Gisela Diedericks in gr. 12 het die toekenning vir kultuurpersoonlikheid 2013 ontvang. Gisela is, nadat sy verlede jaar aan die drama-kategorie van die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe (SATCH) deelgeneem het, genooi om op internasionale vlak aan drama deel te neem. Sy het ook in Januarie aan die SHINE-konferensie in Orlando, Florida deelgeneem.

Gisela was ook vir twee jaar ‘n nasionale wenner van die Radikale Redenaars Spankompetisie. Sy blink uit in die skool se revue en ontvang ook talle prestige toekennings by verskeie Eisteddfods.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button