Lelievlei-direkteur aangerand na hy inwoner uitsit
Terwyl Rousseau glo buite die kamer gestaan het terwyl die man die woning moes ontruim, het hy eensklaps omgevlieg en Rousseau glo met die vuiste bygedam.
LYDENBURG – Mnr. Frik Rousseau, direkteur van Lelievlei is onlangs deur ‘n inwoner van dié deurgangskamp aangeval en nadat hy hom probeer uitsit het.
Volgens Rouseau bly die man, slegs aan hom bekend as ‘Jakes’ vir die afgelope vyf maande in die kamp. “Die man het reeds verskeie kampreëls oortree en was aggresief teenoor die ander inwoners. Ons het hom telkemale gewaarsku om die reëls van die kamp na te kom, maar daar het dadels van gekom.”
Hy meen dat hy die man verlede Woensdag opdrag gegee het om sy Wendyhuis te ontruim. “Daar word elke week netheidinspeksie by die kamers gedoen. Sy kamer het soos ‘n varkhok gelyk. Daar was sigaretstompies op die vloer en die hele kamer was vuil. Ek het vir hom vertel dat hy weereens nie die reëls nagekom het nie en ek dus geen ander keuse gehad het as om hom te vra om die kamp te verlaat nie.”
Die man het Rousseau glo gevra waar hy moet eet en slaap die aand. “Ek het vir hom gesê dat duisende Suid-Afrikaanse mans tydens die oud-weermagopleiding weke lank honger onder bome geslaap het. Dis sy keuse om onder enige boom in Afrika vanaand te slaap.”
Terwyl Rousseau glo buite die kamer gestaan het terwyl die man die woning moes ontruim, het hy eensklaps omgevlieg en Rousseau glo met die vuiste bygedam. “Ek het so min moontlik weerstand gebied en besef dat ek die geveg so gou moontlik moet beëindig aangesien hy jonger en fikser as ek is.”
Rousseau se dat hy die man glo probeer kalmeer het, maar dat dié glo briesend was. “Hy het toe wel die kamp verlaat. Ek het na die SAPS kantoor gery en ‘n aanrandingsaak gemaak. Die man is ‘n halfuur later deur SAPS-lede in Morganstraat in hegtenis geneem.”
Volgens hom is Lelievlei hoofsaaklik ‘n toevlugsoord vir vrouens en kinders. “Jongmans word egter ook met tye toegelaat, afhangende van omstandighede. Ek is glad nie kwaad oor die voorval nie en koester ook nie ‘n wrok nie. My vriende het my aangeraai om die man ook siviel aan te kla, maar ek trap nie ‘n man as hy lê nie. Alhoewel ek nie geweld goedpraat nie, verstaan ek in ‘n mate sy optrede in ‘n sekulêre staat en geweldadige land soos Suid-Afrika waar daar geen dissipline meer is nie.”
Rousseau sê dat sy generasie uit streng ouerhuise kom. “Ons was in beide die laer-en hoërskool getugtig en die bietjie rebelsheid wat ons oorgehad het, is in die Suid-Afrikaanse weermag finaal gebreek.”
Hy vertel verder dat hy ‘n groot voorstaander is van een jaar verpligte militêre diens om vandag se jongmense dissipline te leer.
Rousseau het gekneusde ribbes opgedoen en is tans onder doktersbehandeling. “Mense vra my waarom ek nie my lyfwag saamgeneem het nie. Ek vat nooit my lyfwag na Lelievlei toe nie, dis vredeliewende mense, die wag vergesel my slegs na politieke byeenkomste en vergaderings.”
