Community galleriesGalleriesLocal newsNewsNewsNews galleriesSchools

Potte prut vir honger magies

“Elke span moet ‘n pot maak en ook hul stalletjie volgens ‘n spesifieke tema versier waarna hul deur ‘n paneel beoordeel word om eindelik ‘n wenner aan te wys,”

LYDENBURG – Meeste skoolkinders tel teen die tyd al die dae af na ‘n lekker lang Desembervakansie wat op hul wag. Dis ‘n vakansie wat meerendeels met somersonskyn en selfs ‘n draai by die see geassosieer word, en vir dié wat dalk in Jan-tuisbly-se-karretjie moet ry, lê daar nietemin troos in ‘n heerlike Kersfees-ete saam met die familie.

Maar vir verskeie leerlinge van Laerskool Lydenburg is dit egter nie die geval nie. Vir hulle is dit ‘n donker tydperk, ‘n tyd waar hulle wonder waar iets so alledaags soos ‘n maaltyd vandaan gaan kom.

Min het hulle geweet dat Laerskool Lydenburg die antwoord op hierdie vraag sou gee. Toe verskeie plaaslike maatskappye se manne Vrydag hulle verskyning op die skool se rugbyvelde maak – pot in die een hand, en goeie gees in die ander – is alle negatiewe gedagtes by die deur uit en met ‘n boodskap van hoop tydens die LSL-gemeenskapsprojek vervang.

Hierdie projek daag maatskappye uit om sake oor ‘n pot uit te spook en terselfdertyd hul spanbou te doen. Volgens Amanda Hamman, orgniseerder van die projek, word daar van elke maatskappy verwag om met ‘n kreatiewe konsep tydens die kompetisie vorendag te kom.

“Elke span moet ‘n pot maak en ook hul stalletjie volgens ‘n spesifieke tema versier waarna hul deur ‘n paneel beoordeel word om eindelik ‘n wenner aan te wys,” vertel Hamman. Die manne het hulself behoorlik oortref en resepte het gewissel van gestopte springbokboud tot ‘n Portugese dubrada en natuurlik die ou staatmakers wat bees en skaap insluit. Hierdie spanne het reeds van 14:00 sake oor die kole begin uispook en teen 18:00 was dit egter Precrete en NG Suid wat as wenners uit die stryd getree het, met Mega Paint kort op hulle hakke. Volgens Brian Whitehorn, beter bekend as die Saucy Chef, wat ook een van die beoordelaars was, was al die potte van‘n baie hoë gehalte.

“Elke stalletjieshet beslis iets unieks na die tafel gebring.” Die fondse wat uit die projek ingesamel word, gaan aan die Hart-vir-LSL-kinderfonds waaruit die behoeftige kinders van die skool versorg word. Volgens Hamman maak die gemeenskap dwarsdeur die kwartaal broodjies vir hierdie kinders wat dan gedurende skooltyd uitgedeel word, en gedurende vakansies beteken dit hulle is nie verseker van ‘n maaltyd nie. Hamman vertel dat daar uit hierdie spesifieke fonds dan vir die behoeftige kinders kospakkies opgemaak word.

“Dié pakkies word gedurende die lang Desembervakansie by hulle besorg wat verseker dat ons kinders deur die vakansie ook versorg is,” sê Hamman.

Volgens haar dra die fonds ook tot ander behoeftes by wat onder anders mediese en maatskaplike behoeftes insluit. “2013 se LSL Potjiekoskompetisie was weereens ‘n reusesukses danksy die gemeenskap wat so betrokke geraak het. Ons daag ander besighede in ons gemeenskap uit om solank te begin beplan en te oefen aan potte vir 2014.”

Laerskool Lydenburg bedank graag vir Volkswagen, Mega Paint, Tile Direct, NG Suid, R&P Paneelkloppers, Huizemark, Toyota, Hoërskool Lydenburg se Jeugraad vir 2014, Pre Crete asook Laerskool Lydenburg se manspersoneel wat almal potte gemaak het. “Baie dankie vir julle deelname en spangees – dit word hoog op prys gestel.”

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button