GalleriesHard newsNewsNewsNews galleries

Miljoene rande se skade na verwoestende storm

Enige donderstorm wat nou kan voorkom het die potensiaal om ernstige skade aan te rig

BADFONTEIN – Die dreuning van stropers is stil. Geel koringlande lê met geboë are en dit weerspieël die boere se moedeloosheid. Hier en daar krap ‘n blouaap in die grond op soek na laaste koringkorrel wat oorgesien is deur ‘n vernietigende haelstorm die afgelope naweek.

“Dit was die ergste een wat ons in ongeveer 30 jaar gesien het,” vertel bykans al die boere in die Badfontein-omgewing wat miljoene rande se skade gely het toe hulle landerye deur hael so groot soos duifeiers en selfs groter verwoes is. Talle huise en skure is ook beskadig. Volgens Morne Kuter van PG Glass is daar na beraming oor die 5 000 ruite uitgeslaan. 800 is reeds vervang en ‘n totaal van 350 vierkante meter glas behels het. “Van die meubels in die huise is selfs beskadig weens die geweldige wind wat hael deur die vensters ingewaai het,” vertel Kuter. Verskeie boere beskryf hoe talle hoenders doodgeslaan is en honderde tarentale en duiwe dood op die gras gelê het. “Ons stoep se dak het inmekaargestort en die wilgerbome is sonder blare,” vertel Amanda Hamman.

Bome wat as skuiling gedien het en eens koelte gebied het, staan nou soos droë stoppels in die woestyn. “Dit was chaos”, sê Estelle Bullen wat op een van die plase bly wat erg deur die storm geraak is. “Vir 30 minute het aggresiewe hael met ‘n erge tornado-wind geheers waarna die dit effens afgeneem het, maar die wind het daarna steeds stormsterk vir omtrent 15 minute gewaai.” Volgens Bullen het die reën nog vir ‘n verdere 15 minute aangehou en daarna begin opklaar, maar die skade was reeds gedoen en binne ‘n bestek van ‘n uur is oeste en weivelde vernietig. “Gras in die veld lyk of mens dit met bossiekappers gesny het en boomstamme lyk of hul met messe bygedam is,” sê Bullen.

Volgens Gawie Grobler Makelaars beloop die versekerde waarde vir soja sowat R5,8 miljoen, koring R3,8 miljoen, mielies R2,1 miljoen en suurlemoene R1,1 miljoen. Die bedrag ten opsigte van bate-versekering kon nie voor druktyd bevestig word nie, maar volgens verskeie konsultante bly die bedrae styg soos wat eise instroom.

“Ons was opgewonde om die oes af te haal, Saterdag het ons nog gestroop en Sondag was daar niks meer oor nie. Jy weet jy moet nóú ‘n plan maak, want die saad raak skaars, maar dis dinge soos die wat mens bedruk laat voel,” vertel Jan en Danie Hamman, boere wat albei deurgeloop het. Hamman, met R600 000 se skade (konserwatief geskat), meen die enigste opsie is om die oorblywende koringlande af te brand en so vinnig moontlik soja daar te plant. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens se Teboho Moloi in Nelspruit het verduidelik dat ‘n onstabiele atmosfeer die rede vir dié vernietigende storm was, nadat ‘n ernstige donderstorm daaruit onwikkel het. “Enige donderstorm wat nou kan voorkom het die potensiaal om ernstige skade aan te rig,” sê Moloi.

Geen waarskuwing in die Lydenburg-omgewing is tot dusver vir die naweek uitgereik nie volgens Moloi.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button