Sleutelgat Kilimanjaro
Op 27 September om 00:40 het een van Hoërskool Lydenburg se leerlinge se groot avontuur begin – die klim van Kilimanjaro, die hoogste berg in Afrika. Migael van Velden het sy ondervinding met Sleutelgat gedeel. “Ons eerste vlug het in Kenia gestop. Nairobi se lughawe het ‘n paar maande terug afgebrand met die gevolg dat …

Op 27 September om 00:40 het een van Hoërskool Lydenburg se leerlinge se groot avontuur begin – die klim van Kilimanjaro, die hoogste berg in Afrika. Migael van Velden het sy ondervinding met Sleutelgat gedeel.
“Ons eerste vlug het in Kenia gestop. Nairobi se lughawe het ‘n paar maande terug afgebrand met die gevolg dat ons in ‘n klein geboutjie moes sit en wag, met ‘n lys van die aankomende vlugte op ‘n handgeskrewe bord. Teen dié tyd was ons al so moeg dat ons almal met ons koppe op een tafel geslaap het. Die volgende vlug sou ons na Kilimanjaro-lughawe in Tanzanië neem. Met groot opgewondenheid het ons die eerste klim-dag begroet en vir ou laas die idee van skoon en uitgerus wees, geniet.
Die stap het deur die reënwoud begin. Dit was baie mooi en definitief moeiliker as wat onsvir die eerste dag verwag het . Ons het almal ‘n bietjie benoud begin raak omdat ons stywe kuite gehad het na dag een, en ons het geweet dat daar nog ses dae voorgelê het.
Ons het ook ons pilletjies begin drink om hoogte siekte te probeer voorkom. Hierdie was ‘n storie op sy eie. Kom ons sê maar net ons moes elke uur stop vir blaaskanse (met die klem op die eerste deel van die woord).
Die plantegroei en dierelewe was baie interessant!
Ons het elke aand in tente geslaap en toegesneeu wakker geword. Dit het al hoe kouer geraak. Soos wat die dae aangegaan het, het die paadjies moeliker en die suurstof minder begin raak. Ons het al hoe nader aan die bopunt, Uhuru Peak, gekom.
Die laaste aand was definitief die moelikste. Ons moes 23:00 opstaan en in die donker begin opstap. Daar is so min suurstof dat dit moeilik is net om mens se veters vas te maak. Die lang, sewe uur staptog in die donker in ‘n yskoue 15°C, was seker die slegste én beste oomblik van my lewe.
Alles was die moeite werd toe ons teen 06:00 die son sien opkom vanaf die hoogste punt, 5 895m, in Afrika. Dit was met gemengde gevoelens vanaf vrees tot blydskap en dankbaarheid dat ons as groep saam kon uitkyk oor die Tanzaniese vlaktes.
Op die ou end was hierdie die moeilikste, maar definitief die beste ervaring van my lewe.”
