Wind en hael saai verwoesting in dorp
Die dorp en omgewing het Saterdagaand groot skade gely nadat 'n storm die gebied getref het. In Komatipoort het Domba-gastehuis se dak afgewaai en kragpale het omgeval.

KOMATIPOORT – Die dorp en omgewing het Saterdagaand groot skade gely nadat ‘n storm die gebied getref het. In Komatipoort het Domba-gastehuis se dak afgewaai en kragpale het omgeval. Daar was blykbaar ook ‘n kragonderbreking en geen water was tot die volgende dag om 06:00 beskikbaar nie.
Almal was verlig toe daar ‘n bietjie later weer water was. Die strate was met takke en blare besaai. By die dorp se ingang het dit gelyk of die wind domino’s met al die advertensieborde gespeel het.
Meeste daarvan het plat langs die pad gelê en sommiges is onherstelbaar. By die grenspos was die haelskade ook duidelik sigbaar. Sommige mense het gesê dit het gelyk of die bome se blare, wat oral gestrooi was, deur ‘n masjien versnipper is.
Gateway Gemeenskapskerk moes
Sondagoggend vinnig ‘n plan maak om ‘n kragopwekker in die hande te kry. Dit was Gateway se jaarlikse afsluitingsfunksie en dit kon nie sonder lopende water en krag geskied nie.
Die sterk wind en hael het verwoesting by Inyoni-boerdery van die Bassons gesaai. Vyf groot bome is ontwortel en het omgewaai en op sekere geboue beland. Hul tamatie-oes is heeltemal vernietig en moet van die lande verwyder word.
Iemand het genoem dat dit soos ‘n mini-orkaan gevoel het. Ten spyte van die groot verlies is die gesin positief. Roenel Basson het gesê hulle is nie platgeslaan nie, maar is net baie dankbaar dat daar geen lewensverlies is nie.
Na wat verneem word, het Boxer Supermark en SPAR in Naas ook ‘n gedeelte van hul dakke in die storm verloor.





